MIV/vigs Kan 14% Daal as Hulle Weet 17/05/2013

Beeld: Fanie van Rooyen

Om ’n hele gemeenskap behoorlik oor MIV/vigs in te lig en te verseker dat lede van die gemeenskap maklik toegang tot MIV-toetse en -berading het, kan die voorkoms van MIV in so ’n gemeenskap met tot 14% laat daal.

Dit is bevind in ’n drie jaar lange internasionale navorsingsprojek. Wetenskaplikes van die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) het die bevindings gister amptelik bekend gestel.

Die Accept-navorsingsprojek het ’n kombinasie van sosiale, gedrags- en strukturele benaderings tot MIV/vigs-voorkoming in 48 gemeenskappe in Suid-Afrika, Tanzanië, Kenia en Thailand getoets.

In Suid-Afrika is die proeflopie in gemeenskappe in Soweto en die Vulindlela-distrik in KwaZulu-Natal uitgevoer.

“Hierdie is die eerste grootskaalse, langtermyn- internasionale studie wat aangepak is om vas te stel of ’n gemeenskap se kennis van MIV/vigs en hul toegang tot toetse en berading die vigsepidemie kan help stuit,” het prof. Linda Richter, hoofondersoeker van Accept, by die bekendstelling gesê.

“Die proeflopie het drie jaar geduur, maar die idee vir die projek het al sowat 15 jaar tevore ontstaan.”

Dr. Heidi van Rooyen, direkteur van die projek, het gesê die 48 gemeenskappe is volgens sosiaal-ekonomiese faktore in pare van twee soortgelyke gemeenskappe verdeel.

“In elk van die pare het ons dan in een van die gemeenskappe ’n veldtog begin om die gemeenskap teen MIV/vigs te mobiliseer, om vrywillige toetsing aan te moedig en vryelik beskikbaar te stel, om berading so toeganklik moontlik te maak, om opleiding oor MIV/vigs aan te bied en om die siekte te destigmatiseer,” het Van Rooyen gesê.

In die ander gemeenskap van elke paar is só ’n veldtog nie begin nie. Dié gemeenskappe het as kontrolegroepe gedien.

“Ons het bevind ons ingrypingstrategie het die getal nuwe infeksies in die betrokke gemeenskappe met 14% laat daal,” het Van Rooyen gesê.

 

Share this