Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 09/07/2010 – 11:11
Year C (2009-2010)
Bible Book: Colossians / Kolossense
Chapter: 1
Verse: 1 – 14

Telkens, wanneer ek die eerste hoofstuk van die brief aan die Kolossense lees, val Paulus se positiewe benadering my op. Hy dank God (v 3, 12). Hy bid dat die Kolossense vervul sal word met kennis en wysheid (v 9), vrugbare lewens tot eer van God sal lei (v 10) en versterk sal word om met geduld en blydskap te volhard (v 11).

Wat Epafras aan Paulus oor die gemeente vertel het (v 8), sou hom wel rede tot blydskap gegee het – hulle geloof, liefde (v 4) en hoop (v 5). Maar die diepste rede vir Paulus se entoesiasme is nie wat die Christene gedoen het nie – dit is sy oortuiging van wat God gedoen het.

Daarom herinner Paulus sy lesers in verse 12 tot 14 aan wat God vir hulle en vir hom en vir ons gedoen het. Dit is die Vader “wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig”(v 12). Met woorde wat aan Israel se eksodus uit slawerny en die ontvangs van die beloofde land herinner, beskryf Paulus hulle verlossing: “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (v 13 – 1953 vertaling). Deur wat Jesus gedoen het, is ons sonde vergewe. “Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes” (v 14).

Dit is wanneer Paulus hierdie waarhede bedink dat hy instaat is om positief te bly – selfs al skryf hy die brief vanuit die tronk (vgl 4:18) en selfs al is hy daaroor besorg dat die Christene in Kolosse die gevaar loop om van die ware evangelie af te dwaal (vgl (2:20-23).

Paulus weet wat God vir hom en vir die Christene in Kolosse gedoen het. Hy weet dat hulle nou aan ’n nuwe koninkryk behoort – die Koninkryk van die Seun van God. Hulle is van die “mag van die duisternis” (v 13) verlos en daarom het hierdie “magte”nie meer seggenskap oor hulle nie.

Uit hierdie versekering vloei die krag om te volhard, geduld, blydskap en dankbaarheid (vgl v 11-12).

Om oor na te dink (of te bespreek): Is dit moontlik om ’n positiewe benadering te midde van MIV en vigs te behou?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans