Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 05/07/2010 – 08:29
Year C (2009-2010)
Bible Book: Galatians / Galasiers
Chapter: 6
Verse: 1 – 5

Spelers op ’n sokkerveld het een doel voor oë – om ’n doel aan te teken.

Paulus se doel vir die Christen gemeente in Galasië is ’n nuwe skepping. Hierdie nuwe skepping is niks minder nie as die beeld van Christus in hulle. “My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry” (4:19). Hierdie “beeld van Christus” is meer as elke individuele gelowige se “toegewyde lewe” – dit is wanneer die gemeente in die vryheid wat Christus skenk, lewe en dit gebruik om mekaar te dien.

Soms kan die beste sokkerspeler die span en ondersteuners teleurstel.

Dinge kan in Christen gemeenskappe skeefloop.

Dis wanneer daar ’n doel teen ’n span aangeteken word wat die ware karakter van daardie span na vore kom.

Dit is wanneer dinge in ’n gemeente skeefloop wat die beeld van Christus gesien sal word – of nie.

Paulus se raad in vers 1 is om uit liefde vir die persoon op te tree. Die doel van betrokkenheid by ’n broer of suster wat “in die een of ander sonde val” (v 1), is nie om te straf nie, maar om te herstel en te genees. Vir Paulus is God se fokus nie reëls nie, maar verhoudings. Mense is die belangrikste. Daarom is ons doel nie om wette te verdedig nie, maar om mense te herstel.

God se liefde reik sonder diskriminasie na alle mense uit en soek daarna om hulle te vernuwe. Daarom het gelowiges verantwoordelikheid vir mekaar. Hulle moet mekaar se laste deel, selfs die laste van skuld en skande wanneer iemand afdwaal (v 2 vgl 5:14). Ons “vervul (so) die wet van Christus” (v 2, 1953 vertaling) wanneer ons op ’n liefdevolle en ontfermende wyse, sonder veroordeling en sonder ’n houding van neersien op, by mekaar betrokke is.

Ons sal slegs instaat wees om mekaar se laste op ’n liefdevolle en sagte wyse te dra wanneer ons daarmee rekening hou dat ons almal kwesbaar vir versoeking is en almal van die genade van God afhanklik is.

Ja, ons word geroep om in ’n hartelose wêreld ’n alternatiewe gemeenskap van God se genade, ontferming, genesing en herstel te wees. Dit is alleen deur die krag van die Gees moontlik – alleen deurdat God ons tot ’n nuwe skepping herskep.

Om oor na te dink (of te bespreek): Wat behoort ons doel(e) in hierdie tyd van MIV en vigs te wees?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans