Submitted by Visitor (not verified) on Tue, 08/12/2009 – 14:10
Bible Book: John / Johannes
Chapter: 15
Verse: 26
Teks: Johannes 15:26-16:15

Jesus gee aan die dissipels die belofte dat die Heilige Gees na hulle sal kom om hulle te troos. Hulle is ontsteld daaroor dat Jesus uitdruklik sê dat Hy doodgemaak sal word (16:6) en ook dat Jesus hulle waarsku dat daar vir hulle tye van vervolging en beproewing voorlê (16:2).

Elke verwysing na (en beskrywing van) die Heilige Gees in hierdie gedeelte bevat ‘n element van troos – nie alleen vir hierdie dissipels wat alleen agterbly het en wat aan vervolging en beproewing blootgestel is nie – maar ook vir ons. Saam met die troos is daar ook die oproep aan die dissipels om te getuig (15:27); nie afvallig te word nie (16:1) en hulle deur die Heilige Gees in waarheid te laat lei (16:13).

Die beskrywing van die Heilige Gees se werk in 16:8-11 (die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel) was nog altyd vir my vaag en onduidelik. Wat ek egter onlangs gelees het, laat vir my nuwe lig opgaan. Verse 8-11 kan verstaan word binne die konteks van ‘n hofsaak. As ons dit so lees, staan dit direk teenoor die hofsaak waaraan Jesus kort hierna onderwerp sou word. Jesus is veroordeel omdat Hy teen God sou gesondig het, die mense (Sanhedrin) wat Hom veroordeel het, het gedink hulle het die reg aan hulle kant. Die Heilige Gees oortuig egter dat presies die teenoorgestelde gebeur het: Die ware sonde was die mense se ongeloof in Hom, die eintlike oordeel wat voltrek is deur sy kruisiging was oor die Bose of “owerste van die wêreld”. Lees byvoorbeeld Kolossense 2:15-16 in hierdie lig.

Die Heilige Gees het die ware betekenis van Jesus se veroordeling en teregstelling bekendgemaak. Ook wanneer die dissipels aan vervolging blootgestel sou word, sou die Heilige Gees die finale getuienis oor sonde, geregtigheid en oordeel gee. Die Heilige Gees se oortuigingswerk strek ook verder: ons denke en dade ten opsigte van sonde, geregtigheid en oordeel moet in waarheid en volgens die reg, soos wat Jesus dit openbaar het, geskied. Ook vandag doen die Heilige Gees dit en wil Hy dit deur sy kerk doen.

Ongelukkig vertel baie verhale (daar is ook mooi verhale) vanuit die vigspandemie byna die teenoorgestelde: mense word sonder meer veroordeel, eensydige idees oor sonde word verkondig en diegene wat dit doen, doen dit dikwels in die naam van geregtigheid. Té maklik vergeet ons dat een van die belangrikste kwessies van die vigspandemie die kwessie van ware geregtigheid is.

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans