Submitted by Visitor (not verified) on Thu, 17/11/2011 – 11:00
Year A (2010-2011)
Bible Book: Job
Chapter: 42
Verse: 1 – 17
Teks: Job 42:1-17

Die laaste hoofstuk van Job is bekend vir die gelukkige einde. Job het gely, Job het God persoonlik ontmoet. God het Job weer gesond gemaak en aan hom meer gegee as wat hy voor sy siekte gehad het.

Tussen Job se ontmoeting met God en God se herstel van sy stukkende lewe gebeur iets dramaties. God beveel die sieketroosters om hulle met die sieke te gaan versoen (Job 42:7-8)! Elifas en sy twee vriende, wat eers vir Job bepreek en veroordeel het (hulle afkeurende hantering van Job se siekte was stigmatisering van Job), gaan offer saam met Job. En Job bid vir hulle.

Tereg wys Simon (BUVTON se “Preekstudies met liturgiese voortstelle Advent 2002 tot Koninkrykstyd 2003”) uit dat hierdie versoening plaasvind voor Job genees is.

Die terugkeer van die sieketroosters is nie ‘n tussenspel tussen Job se ontmoeting met God en sy uiteindelike herstel nie. Dit is eerder die begin van sy herstel. God se opdrag aan die sieketroosters (wat nie die waarheid oor God met die sieke gepraat het nie) is om terug te gaan na Job en om in sy teenwoordigheid te offer. Hulle moes die waardigheid van Job (met sy swere en op die ashoop) erken en hom as mede-aanbidder aanvaar. Dat Job vir hulle bid, wys dat versoening plaasgevind het (42:9).

Die implikasies van hierdie drama vir ons land wat siek is aan die stigma wat aan MIV en vigs “kleef”, is vanselfsprekend. Sonder die afbreek van hierdie stigma deur die versoening van Christus se liefde, sal ons ‘n siek gemeenskap bly – selfs al kom daar vandag nog medisyne wat vigs volkome genees.

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans