Teks: Filippense 4:4-7
Ons het almal ‘n natuurlike neiging om weg te skram van liggaamlike of emosionele pyn. Daarom vermy ons ook dit wat ons hiermee assosieer. In die lig hiervan is dit nie vreemd dat mense so maklik wegskram van inligting oor MIV en vigs nie. (Om nie eers te praat van gedragsverandering en aktief betrokke raak nie …..)
“Al weer die vigs-storie”, kla jongmense.
“Ons het nou eers genoeg gehoor, dankie”, keer die getroue kerkgangers.
“Om by vigs betrokke te wees, is ‘n bitter swaar stryd”, verduidelik ander hulle onbetrokkenheid.
“Ons moenie te veel hieroor praat nie – dit sal mense affronteer”, skerm leraars.
Sondag se teks (Fil 4:4 – 7), gee aan ons ‘n geleentheid om hierdie “natuurlike reaksies” aan te spreek. Gelowiges wat ontdek het dat die Here naby is en dat hulle vreugde daarom nie afhanklik is van hulle omstandighede nie, is mense wat die stukkende werklikheid rondom hulle in die oë kan kyk.
Die soeke na Kersvreugde wat die geweld en vigs en armoede rondom (onder) ons “verdryf” of “vergeet” of “wegwens”, verstaan nie die vreugde waarvan Filippense ons leer nie. Dis ‘n vreugde waarvan Paulus getuig terwyl hy in die tronk sit.
Omdat ons vreugde spruit uit die wete dat die Here naby is en omdat dit “in die Here” geanker is, kan ons ook op die derde Sondag van Advent (wat die klem op vreugde plaas) as gemeente onthou dat ons leef in ‘n tyd en ‘n land waar die MI virus elke dag nog 1 700 mense infekteer en waar daagliks 700 mense aan vigs-verwante siektes sterf.
Om vir geïnfekteerdes en geaffekteerdes te bid en om betrokke te raak, sal nie ons vreugde in die Here wegneem nie.