Bible Book: Zechariah / Saggaria
Chapter: 6
Verse: 9
Verse (to): 15

 

Teks: Sagaria 6:9-15

Sagaria ontvang ‘n opdrag van die Here om goud en silwer van die terugkerende ballinge te neem (vers 10) ‘n kroon te maak, dit op Jesua se kop te sit (vers 11) en dan die boodskap van die Here bekend te maak (verse 12-13). Dit wil voorkom of wat hy doen en ook wat hy sê verwarrend is. Byvoorbeeld: ‘n Priester dra tog nie ‘n kroon nie (vergelyk vers 11 met 3:5)? Is daar in vers 13 sprake van ‘n koning en ‘n priester of van ‘n priester-koning?
Ten spyte van hierdie vrae is een aspek duidelik: Sagaria ontvang ‘n boodskap van bemoediging en hoop vir die ballinge wat terugkom in ‘n Jerusalem wat nog sonder mure is en waar ‘n half-geboude tempel staan. Al lyk die omstandighede wat hulle daar vind mistroostig, kan hulle weet dat die Here sal ingryp. God sal vir hulle gee wat hulle nodig het en dit sluit in dat die regte leiers deur God geroep en toegerus sal word. Die profeet beskryf hierdie leierskap wat God sal voorsien deur middel van twee belangrike ampte van die Ou Testament: die amp van die koning en die amp van die hoëpriester.
Wanneer hierdie twee ampte in verse 11 en 13 skynbaar ineengestrengel word, herhinner dit my aan Skrifgedeeltes soos Psalm 85:10-11 en Mat 23:23.
Wat ‘n deurmekaar wêreld en stukkende mense nodig het, is beide geregtigheid (die amp van die koning) asook liefde en barmhartigheid (die amp van die priester).
Die afwesigheid van sterk leierskap ten opsigte van die vigspandemie op verskeie terreine van die samelewing (insluitend die kerk) is al dikwels betreur. Kom ons bid dat God die leiers wat ons in hierdie tyd so nodig het, sal roep en toerus.
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans