Matteus 9:35-38
In Matteus 5 – 9 lees ons van Jesus se bediening. In 9:35 som Matteus hierdie bediening op: Jesus reis deur groot en kleiner dorpe terwyl Hy in sinagoges leer, die goeie nuus van die Koninkryk verkondig en baie mense genees. In hoostuk 10 word hierdie bediening uitgebrei om sy dissipels as medewerkers in te sluit.
Verse 36 en 37 van hoofstuk 9 gee drie redes waarom dit nodig is om hierdie bediening van een persoon na meer persone uit te brei:
Jesus kry die menigtes innig jammer.
Die mense het hulp nodig.
Die werkers is te min.
Die laaste stelling is vir my heel verbasend in hierdie konteks. Jesus is die Seun van God. Hy gaan rond terwyl hy genees en leer en dit lyk asof almal deur sy bediening geraak word. Tog sê Hy: “Die oes is groot, maar die arbeiders min” (vers 37b). ‘n Bybel kommentator maak die volgende opmerking: “The need was too great for Jesus to meet alone, so he called on some of his closest followers to help him meet it.”
Die werklikheid is dat ons in ‘n wêreld leef waar daar baie mense is wat met geestelike, liggaamlike en materiële nood belas word, byvoorbeeld die nood wat uit die MIV pandemie volg. Daarom is die oproep van vers 38, om “die Here aan wie die oes behoort” te bid om meer werkers te stuur, nog net so dringend as wat dit 2,000 jaar gelede was toe Jesus dit vir sy dissipels gesê het.
Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe kan mense wat ander in hulle nood bedien, maar wat self oorweldig voel, gehelp word?