Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 29/08/2011 – 10:23
Year A (2010-2011)
Bible Book: Exodus / Eksodus
Chapter: 12
Verse: 1 – 12
Eksodus 12: 1-12
Vir elke gelowige is die gebeure waarvan ons lees, baie kosbaar.
Die Bybel-in-praktyk gee ‘n kort saamvatting van die gebeure en ek deel dit graag met jou.
Paasfees, aanvanklik net ‘n heidense fees, kry ‘n nuwe inhoud. Net soos die besnydenis was die paasfees ‘n bekende gebruik .Elke jaar het die veeboere in die lente met hulle vee na beter weivelde getrek. Dan het hulle ‘n lam geslag en die bloed aan die tentpale gesmeer om die bose geeste van die lammeroes weg te hou.
Met die uittog word aan hierdie heidense fees ‘n nuwe betekenis gegee. Voortaan sou die paasfees vir Israel ‘n onthou-fees wees. Hulle kon terugdink aan hulle verlossing ,daardie bevryding uit Egipte. Die bloed van die paaslam het nou die doodsengel tydens die laaste plaag (die dood van die oudste seuns) af geweer en het hy by Israel se huis verbygegaan.
Die paasfees was dus vir hulle inderwaarheid nou ‘n lentefees waartydens hulle na hulle nuwe land vertrek het. Maar die paasfees sluit ten nouste by die plae aan. Die laaste plaag wat die hoogtepunt daarvan was, gee aanleiding tot die instelling van die paasfees. Na die dood van die eersgeborenes gee die farao toestemming dat Israel kan trek. Sonder dat die volk ‘n vinger verroer het, het God hulle deur sy wonderwerke verlos. Om die wonderlike dag van die verlossing en uittog te herdenk, kry Israel toe opdrag in die toekoms elke jaar paasfees te vier.
Maar die paasfees het in die tyd van die Nuwe Testament nuwe betekenis gekry. Dit verwys na die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Daardeur is vir ons die nuwe lewe, die ewige lewe , moontlik gemaak. Volgens die Nuwe Testament , is Jesus die paaslam. “Ons paaslam is immers geslag : dit is Christus.”(1Kor 5:7)
Soos die bloed van die paaslam die doodsengel van Israel se huise af weggehou het, so hou Jesus se dood (sy bloed) ons ook veilig teen die dood; soos die paasfees in die Ou Testament die fees van nuwe lewe, ‘n nuwe oes was, so is die paasfees in die Nuwe Testament ook die fees van die nuwe lewe.
Die Joodse Paasfees van die Ou Testament word nou vervang met die nagmaal, wat vir christen-gelowiges ‘n teken van die ewige lewe, van nuwe lewe van die wonder van die opstanding is.
Soos die paasfees is die nagmaal nou die teken van God se mag om ons te verlos. Soos Jahwe(die Here) Ra oorwin het in Egipte, het Jesus die Satan oorwin deur sy dood en opstanding.
So kan ons as Nuwe Testamentiese gelowiges die paasfees saam met die Israeliete van ouds vier.
Hierdie paasfees het met VIERING en HERINNERINGte make. Kom ons onthou dit wanneer ons vandag voortsukkel, dalk swaarkry en met fisiese pyn sit. Kom ons vier die lewe wat Christus vir ons voorhou en put uit die krag waarmee Hy vir ons staande hou. Laat ons onthou : God is goed, ook vir my.
Author: Smith K (Rev)
Language: Afrikaans