Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 14:13
Bible Book: Hebrews / Hebreers
Chapter: 13
Verse: 1 – 16
Teks: Hebreërs 13:1-8, 15-16

Sowat 450 jaar gelede skryf Johannes Calvyn in sy Hebreër kommentaar die volgende oor vers 3 van hoofstuk 13: “There is nothing that can give us a deeper feeling of compassion than to put ourselves in the place of those who are afflicted. So he (the writer of Hebrews) says that we ought to think of those in bonds as if we were in their position.”

Dis interessant om hierdie gedagte met Jesus se beskrywing van die “wet en die profete” volgens Matteus 7:12 te vergelyk: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.”

Hoe sal ek kan weet wat ek sou verlang as ek die ander persoon was? Hebreërs 13:3 sê: Deur jou in sy of haar posisie te stel. Die eerste praktiese stap van gehoorsaamheid aan die “goue reël” van Jesus is om aan hulle wat swaarkry te dink asof jy saam swaarkry. In die eerste plek moet jy onthou dat hierdie jou storie kon wees, dat dit jou plek kon wees – en om dan op te tree soos wat jy sou verlang het as dit inderdaad jou storie, jou plek was.

Dit lyk maklik om te verstaan en te doen. Tog sukkel ons dikwels om dit prakties te beoefen. Waarom is dit so moeilik om onsself in die skoene van iemand wat swaarkry, te plaas? Een van die baie redes is dat ons geneig is om “op ‘n afstand” na swaarkry te kyk. Hulle wat swaarkry, is die “ander”.

Volgens Calvyn is dit presies die probleem wat die Hebreër skrywer in die tweede deel van vers 3 aanspreek. Vir Calvyn verwys die “as mense wat self ook ‘n liggaam het” (1953 vertaling) na die liggaam van die kerk. Hy verduidelik as volg: “Since you are members of the same body, you ought to have a common feeling for one another’s troubles, so that you are not divided amongst yourselves.”

Wanneer ons onthou dat ons een liggaam is, sal ons die wat swaarkry met ontferming onthou. En hierdie ontferming sal meer as gedagtes wees – dit sal dade word wat vir God aanneemlik is (lees verse 15 en 16).
Om oor na te dink (of te bespreek): Watter invloed sal die beginsel, “plaas jouself in die een wat swaarskry se skoene”, op ons houdings teenoor mense wat met MIV leef, hê?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans