Bible Book: Romans / Romeine
Chapter: 7
Verse: 15
Verse (to): 25

 

Romeine 7:15-25

Is dit moontlik om Romeine 7:15-23 te lees sonder om ongemaklik te raak?
Paulus skryf oor homself (let op hoeveel keer die woord “ek” voorkom) en hy doen dit in die teenwoordige tyd. Daarom kan ‘n mens nie help om te wonder: Praat Paulus werklik van homself? Verwys hy regtig na wat met hom in sy eie lewe gebeur nou dat hy ‘n Christen geword het? Is dit moontlik dat die groot Apostel van die Heilige Gees kan sê: “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek” (7:19)? Is dit dieselfde persoon wat in 8:1 verklaar: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie”?
Jy sal waarskynlik met my saamstem dat om ‘n Christen te word nie alle sonde en versoekings eens en vir altyd uit jou lewe verwyder nie. Christene kan sondig. Christene sondig.
Dit is jammer dat die idee (onder sommige Christene) bestaan dat die ongelowiges die mense is wat sondig terwyl Christene nie sondig nie.
Dit is nodig dat ons as Christene ons vermoeë om te kan sondig, erken . Ons moet nooit die krag van sonde onderskat nie. Met ander woorde: ons moet rekening hou met die werklikheid van ons eie feilbaarheid en kwesbaarheid.
Miskien is dit een van die redes waarom Paulus in hierdie gedeelte so intens persoonlik skryf: as ek ontdek dat die groot Apostel van die Heilige Gees so eerlik en openlik oor sy eie feilbaarheid om te sondig, kan wees, help dit my om my eie feilbaarheid en kwesbaarheid te erken.
Om oor na te dink (of te bespreek): Probeer jy nog om sonde met jou eie vermoëns te oorwin of bely jy saam met Paulus dat daar net een weg uit sonde is – deur Jesus Christus ons Here (vers 25)?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans