Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 04/12/2009 – 14:07
Bible Book: 1 John / 1 Johannes
Chapter: 1
Verse: 1 – 2
Teks: 1 Johannes 1:1-2:2
In hierdie Skrifgedeelte is daar verskeie kontraste, byvoorbeeld: lig teenoor duisternis en waarheid teenoor leuen. Wanneer ‘n mens kontraste beklemtoon, gebeur dit maklik dat jy ongenuanseerd kan dink. Tog is dit opvallend dat hierdie skrywer baie genuanseerd skryf. Let op hoe genuanseerd hy oor sonde skryf.
Elke verwysing na sonde vanaf 1:6 tot 2:2 het ‘n eie nuanse. Vir dié skrywer is daar ‘n belangrike verskil tussen ‘n enkele sondige daad, sonde wat bely word, sonde wat ontken word en sonde wat herhaal word, om enkele voorbeelde te noem.
Die verloop van hoe gemeenskappe en ook sommige gemeentes en Christene op MIV en vigs reageer, toon ‘n ander denkwyse oor sonde. Vrae wat hier ‘n belangrike rol speel, is vrae soos: “Watter sonde het jy gedoen?” en “Het die sonde wat jy gedoen het, rugbaar geword?” Agter hierdie vrae skuil idees dat sekere sondes erger sondes as ander is en dat “erge sondes” wat rugbaar word en daarmee ook naasbestaandes in ‘n slegte lig stel, die groot (onvergeeflike) sondes is. Voeg hierby dat die hantering van hierdie “sondaars” dan dikwels gepaard gaan met veroordeling en verwerping (stigmatisering) en dit word duidelik hoe totaal vreemd aan die boodskap van ons Skrifgedeelte hierdie situasie is.
1 Johannes 1:1-2:2 beskryf die lewe van mense wat vanuit die kruis en opstanding van Christus leef. Hier is daar gemeenskap (1:3,7), blydskap (1:4), waarheid (1:6), belydenis (1:9), vergewing (1:9), reiniging (1:7,9), voorspraak (2:1) en versoening (2:2). Omdat Christus die versoening vir ons sonde is, kan ons in gemeenskap met God en verloste sondaars leef (1:3).
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans