Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 25/06/2010 – 14:44
Year C (2009-2010)
Bible Book: Galatians / Galasiers
Chapter: 5
Verse: 1 – 26

Wanneer Paulus met die Christene in Galasië oor hulle vryheid in Christus argumenteer, het hy nie ‘n politieke begrip in gedagte nie. Hy is diep besorg daaroor dat hulle van die evangelie van verlossing en genade deur Christus mag wegdraai. Hulle het goed begin (vgl 3:3) en het ‘n goeie pad gevolg (vgl 5:7), maar nou lyk dit asof hulle ander leermeesters (vgl 4:17) en daarmee saam ‘n ander evangelie volg (vgl 1:6).

Daarom waarsku Paulus hulle dat as hulle op hierdie nuwe koers volhard, hulle hul vryheid in Christus sal verloor (vgl 5:1).

Hoewel Paulus nie ‘n akademiese definisie van wat vryheid vir die Christen beteken, gee nie, gebruik hy praktiese voorbeelde.

Aan die een kant is vryheid die teenoorgestelde van slawerny. Iemand wat deur Christus vrygemaak is, behoort nie langer ‘n slaaf van godsdienstige reëls te wees nie. Die 1983 vertaling belig hierdie gevaar mooi: “Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie”.

Aan die ander kant is vryheid nie ‘n geleentheid om enigiets wat jy wil, te doen nie. Wanneer julle “julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen” (v 13b), word dit gou ‘n nuwe vorm van slawerny.

Die vryheid wat Paulus verdedig is ‘n vryheid wat ons van wettiese godsdiens bevry (vgl v 1) terwyl dit ons van ‘n begeerte-gedrewe lewe beskerm (vgl v 13).

Hierdie vryheid kan nie van ons verhouding met Christus losgemaak word nie. Daarom kom die vryheid in liefde tot uitdrukking. “Instead, use your freedom to serve one another in love” (5:13c – NLT).

Die kern van die saak is: “Staan dan vas in hierdie vryheid” (v 1). En om dit te doen, nie deur niks te doen nie, maar deur mekaar te dien. Wanneer die gedeelte van verse 13 tot 26 in hierdie lig gelees word, is dit verbasend hoe dikwels Paulus verhoudingstaal gebruik. Byvoorbeeld: agt van die “praktyke van die sondige natuur” wat in verse 19-21 gelys word, het te make met verdeeldheid in die gemeente, naamlik vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns. Verse 15 en 26 bevestig dit.

Christene wat mekaar “byt en verskeur” (v 15) en wat verwaand is, “mekaar uittart of op mekaar afgunstig” is (v 26), is Christene wat behep is met die vraag “wat is reg en wat is verkeerd?”. Maar Christene wat vrygemaak is in Christus behoort eerder te vra: “Wie behoort ek lief te hê?” En: “Hoe behoort ek hierdie persoon lief te hê?” “Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’” (v 14).

Om oor na te dink (of te bespreek): Help jou vryheid in Christus jou om mense wat met MIV leef, te dien?

Author:
N du Toit (Ds)
Language:
Afrikaans