Submitted by Visitor (not verified) on Tue, 08/12/2009 – 15:08
Bible Book: Luke / Lukas
Chapter: 17
Verse: 20-37
Teks: Lukas 17:20-37

Met die lees van Lukas 17:20-37 val dit op dat Jesus die Fariseërs se vrae na spesifieke tye en plekke afwys. Selfs in sy gesprek met sy dissipels gee Hy nie duidelike aanduidings nie. Waarskynlik omdat Jesus in hierdie gesprek sy hoorders tot geloof (lees: verwagting; gereedheid) wil oproep eerder as om aan hulle logiese antwoorde te gee. Die regte ingesteldheid teenoor die Koninkryk en “die dag wanneer die Seun van die mens verskyn” (vers 30) het nie in die eerste plek met ons kennis te make nie, maar met ons lewenswyse (lees: geloof). Die vraag na die Koninkryk word nie met ‘n “waar en wanneer” beantwoord nie, maar met ‘n teenvraag: is jy gereed?

Daarom is die vrae wat hierdie gedeelte by ons oproep, onder andere die volgende: Wat kan ons daarvan weerhou om met die regte geloofsingesteldheid teenoor die Koninkryk van God te leef? Wat kan daartoe aanleiding gee dat ons soos die Fariseërs akademies geïnteresseerd is die Koninkryk, maar dit in die praktyk mis? Hoe kan ons daarvan bewaar word om soos die mense in die tyd van Noag totaal onkant gevang te word? Sal ons ook maar soos Lot se vrou “omkyk en agterbly” omdat ons deur verkeerde dinge gebind is?

Die voorbeelde van verse 31-33 en by name die voorbeeld van Lot (vers 32) beklemtoon die gevaar wat verknegtheid aan materiële besittings inhou. (‘n Onderwerp wat dikwels in die evangelie van Lukas voorkom.) Daar is egter veel meer as net ons materialistiese ingesteldheid wat ons van ‘n Koninkryks-ingesteldheid kan beroof. Hiervan is die Fariseërs vir ons die “slegte voorbeeld”.

Lukas plaas die vraag van die Fariseërs direk na die genesing van die 10 melaatses (verse 11-19). Die een wat teruggekom het om dankie te sê was boonop ‘n Samaritaan. Wat ‘n wonderlike teken van God se ingrype in ons stukkende wêreld! Maar vir die Fariseërs is dit net nog ‘n geleentheid om teoretiese vrae oor die koninkryk te bespreek….

Die Fariseërs het soveel kennis van God se wet, maar hulle lewens is nie grondig daardeur gevorm nie. Hulle is gedurig met Jesus besig – hulle hou Hom dop, vra vir Hom vrae, luister na Hom, maar uiteindelik veroordeel hulle Hom as iemand wat Godslasterlik optree. Hulle is telkens gegriefd wanneer Jesus mense in nood help. Hulle soek fout met elke goeie daad wat Jesus doen. Daarom kan Jesus van hulle sê dat die Koningkyk van God “hier by julle” is en tog mis hulle dit totaal.

Die goeie voorbeeld van Jesus kry ons in die hele verhaal wat Lukas vertel. Paulus het dit opgesommend beskryf as Christus se gewilligheid om Homself te verneder tot die gestalte van ‘n dienskneg en Homself verder te verneder tot aan die kruis (Fil 2:6-8). As dienskneg help Jesus die melaatses wat om hulp roep – sonder om eers allerlei vrae te vra.

Watter ingesteldheid spreek uit ons lewens en optrede? Dié van Jesus of van die Fariseërs?

Ons reaksie op mense se nood gee die antwoord. Vra ons na maniere om te help of word ons onbetrokkenheid deur allerlei teoretiese en akademiese vrae versluier? Meer spesifiek: is die krisis waarin MIV en vigs soveel mense en ons gemeenskap gedompel het vir ons ‘n geleentheid om na mense in nood uit te reik of is dit vir ons ‘n geleentheid om oor kwessies soos “sonde en straf” te debatteer?

Ons reaksie op mense se nood en ook op die nood van MIV+ persone wys of ons die ingesteldheid van die Fariseërs of van Jesus openbaar. En dit beantwoord ook die vraag of ons al gereed is vir “die dag van die Seun van die mens.”

Author: (Unknown)
Language: Afrikaans