Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 22/01/2010 – 12:53
Year C (2009-2010)
Bible Book: Luke / Lukas
Chapter: 4
Verse: 14 – 21
In die politieke wêreld en burgerlike samelewing word baie aandag aan ’n nuwe leier se intreerede gegee. Daar is baie oor president Obama se eerste toespraak as president van die VSA geskryf. Gemeentelede luister fyn na die nuwe predikant of pastoor se eerste preek om agter te kom wat hulle van sy bediening kan verwag.
Toe Lukas sy evangelie geskryf het, het hy besluit om Jesus se openbare bediening op ‘n ander wyse in te lei as wat ons in Markus en Matteus vind. Hy vertel die storie van Jesus se besoek aan sy tuis sinagoge. Aan die mense tussen wie Hy opgegroei het, verklaar Jesus in hierdie “intreepreek” wat Hy van plan is om te doen. Die preek beklemtoon die duidelike doel waarmee Jesus sy openbare bediening begin.
Lukas 4:18-19 is die “teks” van Jesus se preek. Jesus het waarskynlik meer as dit gelees, want die twee verse is ’n kombinasie van Jes 61:1-2 en 58:6. Jesus neem hierdie merkwaardige frases uit twee bekende hoofstukke van die Jesaja profeteboek en pas dit op Homself toe. “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul” (v 21), is Lukas se opsomming van Jesus se preek.
Wanneer ‘n mens Lukas 4:18-19 verder ondersoek, word dit duidelik dat hierdie verse die wesenlike van Jesus se bediening beskryf. Jesus kom om armes te bedien, die gevangenes, die blindes en die onderdruktes. Met ander woorde, hulle wat fisies of geestelik op die rand of selfs buite hulle gemeenskappe leef. Hulle wat verwerp is – vir watter rede ook al. Deur die Heilige Gees gesalf bring Jesus die goeie nuus na hulle wat dit die nodigste het. Jesus is die goeie nuus vir hulle en vir ons.
Jesus openbaar God se omvattende genade (vgl v 19) en die volle implikasies hiervan ontdek ons in Jesus se kruisiging en opstanding.
Jesus se “intreepreek” in Lukas 4 vra ons ernstige aandag. Want dit is veel meer as net ’n indikasie van wat ons in die res van hierdie evangelie kan verwag. Dit is die “loodlyn” wat ons moet gebruik om gereeld te kyk of ons reg in God se Koningkryk bou.
Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe vergelyk die doel van jou bediening met Lukas 4:18-19? Wie is die mense in jou gemeenskap wat fisies of geestelik op die rand leef?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans