Year A (2010-2011)
Bible Book: Daniel
Chapter: 7
Verse: 9
Verse (to): 14

Teks: Daniël 7:9-14

Aan die een kant is die einde van die jaar ‘n herinnering aan die tyd wat uitloop terwyl die stukkende wêreld waarin ons leef nog soveel heelmaak nodig het. Die vier diere wat Daniël in 7:3-8 beskryf, laat mens dink aan die “sewe reuse van ons tyd” wat die afgelope SACLA konferensie beskryf het (MIV-&-vigs, geweld, misdaad, rassisme, armoede-&-werkloosheid, seksisme en gesin-in-krisis).

Aan die ander kant verkondig “Sondag van Christus die Koning” en Daniël 7:9-14 dat God op sy troon sit en dat Hy die Koningskap aan die Seun van die Mens oorhandig. Hierdie koningskap van die “menslike wese” staan teenoor die koninkryke van die vier groot diere wat Daniël 7 beskryf. Hierdie koninkryke met al hulle verskikking en lyding, sal kom en verby gaan, maar die Koninkryk van die Seun van die mens sal ewig bly. “Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie” (Dan 7:14).

Hoewel ons dus bewus is van die stukkende wêreld waarin ons leef, kan ons opkyk na die Koning wat regeer. Terwyl ons bewus is van mense wie se lewens stukkend is – veral ook mense oor wie se lewens die donker skadu van MIV en vigs geval het – kan ons uitryk met die hoop en die liefde wat die Seun van die mens aan ons gee.

Daarom kan ons in hierdie tyd bid:

Here, laat ons die geur van u lieflike teenwoordigheid versprei oral waar ons gaan.

Versadig ons gees met u liefde en u lig:

deurdring ons lewe so volkome met die glans van u lig dat dié wat met ons in aanraking kom, bewus mag word van u warmte en heil.

Laat hulle wat in die skadu’s lewe, na ons kyk en net vir Jesus sien!

Bly so naby ons dat ons lewe soos U s’n sal begin skyn …

Ons vra nie dat die lig op óns val nie, liewe Here, maat dat dit déúr ons op ander sal skyn.

Amen.

(Uit: Groot Gebedeboek, bl 359 – John H Newman – Gebed daagliks gebruik deur Moeder Teresa en haar helpers in Kalkutta.)

 

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans