Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 03/09/2010 – 14:54
Year C (2009-2010)
Bible Book: Luke / Lukas
Chapter: 14
Verse: 25 – 33
Die Jesus van die Evangelies is baie keer ‘n “ander” Jesus as die een wat ons op ‘n Sondagoggend of in ons Bybelstudiegroepe ontmoet; of selfs van wie ons met ons vriende gesels. “Ons” Jesus – dink maar aan kunswerke oor Hom – is gewoonlik ‘n sagte man met ‘n sagte glimlag, met ‘n kind of ‘n skapie in sy arms; liefdevolle, vredevolle gesigsuitdrukking. Ja, partykeer verkies ons eerder Jesus, die Held, bo die romantiese prentjie van Jesus. Ons verstaan wel die begrip “Jesus, die Lydende”, maar ons sal onsself dadelik byvoeg dat Jesus darem gelyktydig ook die oorwinnaar is. Die Sterk Jesus.
Helaas, die gemaklike, “makgemaakte” Jesus waarmee ons onsself so graag omring, is selde die Jesus wat die evangelies aan ons voorstel. Daar word Hy uitgebeeld as ‘n uitdagende figuur: ‘n “moeilikheidmaker” wat die sosiale strukture van sy tyd uitdaag. Hy het die geselskap van die mense-van-reputasie uitgesoek; Hy was beskryf as ‘n dronkaard en ‘n vraat. Hy het nie gehuiwer om die belangrike figure van sy tyd te roskam nie. Hy was ‘n “aanhitser”! Hy vra die onmoontlike van sy volgelinge.
Kyk wat sê Hy in Lukas 12:51: “Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid…”. Skok hierdie woorde jou? Dit behoort! Dit was bedoel om te skok. Wat van Jesus se woorde in Lukas 14:25-33? ‘n Mens kan nog verstaan dat dissipelskap (onder andere) beteken dat ‘n mens die sondige, negatiewe begeertes van die lewe moet kruisig. Maar dit is ‘n onmoontlike eis dat ons hulle moet prysgee – ons families en geliefdes – wat ons lewens vir ons help draaglik maak. Is dit nie ‘n brutaal nie? Is dit nie waarom ons eerder die woorde van Jesus “vergeestelik” nie? Maak dit bietjie “sagter”, want dan is dit nie te moeilik om Jesus te volg nie … want buitendien, Jesus sal nie regtig van ons sulke onmoontlikhede vra nie.
Of doen Hy?
Jesus vra twee dinge van Sy volgelinge: gee hulle wat jy liefhet prys en neem afstand van jou besittings. Natuurlik kom dit teen ‘n prys, daarom is die middelste gedeelte van die teks belangrik: bereken die koste. Kry helderheid oor die dinge wat tussen jou en navolging van Jesus staan.
Waarom is hierdie woorde van Jesus veral vir 21ste eeuse Christene belangrik? So lank soos ons hulle wat die naaste aan ons is die liefste het, sal hulle die primêre ontvangers van ons omgee wees. Dit sal moeilik wees om die vreemdeling en die verstotene te versorg as ons ons eie familielede en ondersteuningsisteme belangriker ag. Om Jesus te volg, beteken om jou arms oop te maak, per implikasie: maak jou los van hulle wat jy eerder verkies om te omhels. Tweedens, so lank soos wat ons vashou aan ons besittings, gaan ons verbruikerskultuur ons laat glo dat ons steeds nie genoeg het nie! Hoe sal jy afstand doen van daardie besittings wat jy glo jy ten alle koste moet beskerm? Hoe sal jy vrygewig raak as jy glo in die mite van skaarsheid?
Om oor na te dink (of te bespreek): Kan dit wees dat, so lank ons die eise van dissipelskap vergeestelik, dit ons weerhou om dit prakties uit te leef?
Author: R Bezuidenhout (Dr)
Language: Afrikaans