Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 12:34
NULL
Bible Book: Exodus / Eksodus
Chapter: 17
Verse: 1 – 17

Na die lees van Eksodus 17:1-17 (en saam daarmee Psalm 95) het ‘n vraag in my kop bly maal: Waarom plaas die skrywer soveel klem op die negatiewe reaksies van Israel?

Die kern van die verhaal behoort die wonderwerk van God wat water uit ‘n rots gee (17:6), te wees. Tog is die verhaal in die annale opgeteken as die gebeure by Massa en Meriba. Dáár waar Israel so vreeslik met Moses rusie gemaak het en God se geduld tot die uiterste beproef het.

Terugskouend lyk dit asof Israel se opstandigheid God se genadige ingrype oorskadu het!

In die lig hiervan is die ernstige waarskuwing van Psalm 95 om tog nie harkoppig te wees soos Israel by Massa en Meriba nie (vers 8), baie nodig.

Mense kan op verskillende maniere “woestyn-ervarings” beleef (teenspoed, siekte, verlies, ens). Hele gemeenskappe kan by wyse van spreke in die woestyn van swaarkry beland. Byvoorbeeld wanneer die vigspandemie se impak erstige afmetings aanneem.

Wanneer Paulus in Rom 5:3-4 skryf: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop”, beskryf hy nie ‘n natuurlike proses nie. Die verhaal van Massa en Meriba is die natuurlike verloop. Wanneer swaarkry volharding kweek en dit tot geloof en hoop lei, is dit ‘n genade-proses. Dit kan alleen deur die Heilige Gees in ons lewens bewerk word (vgl Rom 5:5).

Wanneer die gemeente in die lydenstyd oor die swaarkry van Israel in die woestyn by Massa en Meriba nadink, behoort dit ons tot ‘n dieper begrip en sensitiwiteit vir die lyding van mense te bring.

Deur die lyding (Jesus was ook in die woestyn ter wille van ons), kruisiging en opstanding van Christus word sy volgelinge geïnspireer om met die liefde wat die Heilige Gees uitstort (Rom 5:5) by mense in hulle swaarkry betrokke te wees. Dan sal die natuurlike proses wat na Massa en Meriba lei, omgekeer kan word in ‘n genade-proses wat na volharding, geloof en hoop lei.

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans