Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 13:46
Bible Book: Genesis
Chapter: 2
Verse: 1 – 21
Handelinge 2:1-21

Dit het met ‘n vroeë-oggend biduur begin. Heeltemal rustig, sou ‘n mens kon sê.

Maar ‘n tydjie later klink dit asof daar ‘n opskudding in daardie deel van Jerusalem was. Volgens vers 6 “het die menigte saamgestroom en was in die war” (1953 vertaling).

Wat was die rede vir hierdie skielike wending?

Lukas vertel dat die baie belangrike gebeurtenis van die uitstorting van die Heilige Gees daardie oggend plaasgevind het. Toe die volgelinge van Jesus die Heilige Gees ontvang het, het hulle van ‘n bang en skugter groep in dapper getuies verander, wat vrymoedig “oor die groot dinge wat God gedoen het”, gepraat het (vers 11). Mense van verskeie lande het skielik hierdie Judeërs en Galileërs in die tale waarin hulle opgegroei het, hoor praat – “Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere” (verse 9-11).

Toe Petrus opstaan om die situasie aan die mense wat daar saamgedrom het, te verduidelik, het hy in hierdie gebeure die vervulling van ‘n profesie van Joël gesien. Hy het ook voorspel dat ander beloftes in dié profesie vervul sou word. Die uitstorting van God se Gees sou ‘n inklusiewe gebeurtenis wees. Dit sou seuns en dogters, jongmense en oumense, dienaars en dienaresse insluit (vgl verse 17-18). Dit is beduidend dat mense wat op die rand van die gemeenskap leef, hier ingesluit word.

Blaai deur die res van die verhaal van Handelinge en let op hoe hierdie rigting voortgesit word. Die Heilige Gees beweeg die volgelinge van Christus om baie grense oor te steek en na mense, ongeag hulle nasionaliteit of sosiale stand, uit te reik.
Om oor na te dink (of te bespreek): Is daar “grense” in ons wêreld met MIV en vigs wat ons moet oorsteek?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans