Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 04/12/2009 – 14:14
Bible Book: 1 Kings / 1 Konings
Chapter: 17
Verse: 8 – 24

Volgens verses 8 en 9 beveel die Here Elia om na Sarfat te gaan sodat ‘n weduwee vir hom kan sorg. In vers 9 lees ons: “Ek het ‘n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg” – tog het sy nie meer kos gehad om hom te versorg nie. Dit wil voorkom of sy ook nie vooraf gewaarsku is dat hierdie man in die droogtetyd by haar sou kom bly nie. So begin die verhaal van hoe die weduwee van Sidon vir Elia, die man uit Israel wat later die profete van Baäl sou opponeer, sorg (vgl 1 Konings 18:20-46).

In die laaste instansie is dit God wat vir die weduwee, haar seun en Elia sorg. Die Here, die God van Israel, gee daagliks meel in die kruik en olie in die kan van die weduwee (vers 14). Toe die weduwee se seun siek word en hy die laaste asem uitblaas (vers 17), is dit weer die Here, die God van Elia, wat die seun lewe skenk sodat Elia hom aan sy ma kan teruggee.

Hierdie verhaal van wonders (voorheen is Elia deur kraaie gevoed) is fasinerend en kan maklik tot diskussies oor wonders lei. Maar dit kan mens op ‘n syspoor neem.

Wat my fasineer, is hoe hierdie verhaal twee aspekte wat dikwels ver van mekaar verwyderd voorkom, bymekaar bring. Ek verwys na (aan die een kant) wat hier op die makro arena van die politiek van Israel gebeur. Elia en Agab, die koning van Israel, is in ‘n magstryd gewikkel. Dit sal tot die konfrontasie tussen Elia en die Baäl profete op berg Karmel lei. Dit is ‘n situasie wat herinner aan die stryd tussen Moses en die towenaars van Egipte wat tot die uittog van Israel uit Egipte gelei het. Dit kom voor of die “geveg van die magtiges” die lot van gewone burgers ignoreer. Hoeveel het nie as gevolg van die droogte gely nie?

Die gebeure het ook ‘n ander kant: Die verhaal van drie mense binne die mikro arena van ‘n weduwee se klein huis. ‘n Vrou, ‘n kind en ‘n man van Tisbet in Gilead oorleef die droogte omdat God vir hulle sorg. Gewone burgers in inderdaad ingesluit in God se plan. Uiteindelik gaan dit in die stryd op berg Karmel om hulle vryheid om die God van Israel te aanbid.

Ons God is die Een wat tye en nasies in sy hand hou. En Hy hou die weduwee en haar seun en die eensame profeet in sy hand.

Om oor na te dink (of te bespreek): Op watter wyse is dit wat in die raadsale van mense met gesag gebeur, belangrik vir die stryd teen MIV en vigs? Op watter wyse is dit wat tussen ons in ons huise en wat in ons ontmoetings met enkelinge gebeur, belangrik vir die stryd teen MIV en Vigs?

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans