Submitted by Visitor (not verified) on Thu, 17/11/2011 – 12:07
Year A (2010-2011)
Bible Book: Exodus / Eksodu
Chapter: 34
Verse: 29 – 35
Eksodus 34:29-35

Moses se worsteling vir die behoud van Israel in die teenwoordigheid van die HERE – veertig dae lank – het hom merkbaar verander. Sy gesig het so geblink dat Aäron en die Israeliete vir hom bang was toe hulle hom die eerste keer sien (Eks 34:30). Wie met die Heilige God in aanraking was, bly nie dieselfde nie.

Op “Sondag van die verheerliking” herinner hierdie verhaal ons daaraan dat ons ‘n heilige God dien. Deur verootmoediging, gebed, Skriflesing en sang word ons in die erediens bewus van God se heiligheid en heerlikheid. ‘n Heerlikheid wat op besondere wyse in Jesus Christus aan ons openbaar is.

Dat die gemeente self iets van die heerlikheid van God behoort te vertoon, dring ons tot ernstige vrae: Hoe word die heerlikheid van God (Christus) in sy gemeente van 2004 in Suid-Afrika vertoon? Sou daar iets hiervan merkbaar wees vir hulle wat na die gemeente (gelowiges) kyk?

Die rigting waarin die preekvoorstel van Buvton se Preekstudies beweeg, help beslis met hierdie vrae. Die heerlikheid van God word vandag sigbaar in mense wat nuutgemaak is. Nuutgemaak om diensbaar te wees in ‘n stukkende wêreld en betrokke te wees by stukkende mense.

Daarom sal dit gepas wees om op hierdie Sondag as gemeente ook bewus te wees van die stukkende wêreld waarin ons leef en van die stryd van stukkende mense rondom en onder ons. Dit kan byvoorbeeld gedoen word deur die onderstaande gebed te gebruik. Hierdie klaggebed van ‘n vigslyer help ons om sy/haar verlange na God se heerlike teenwoordigheid in sy/haar lewe, te hoor. Dit daag ons uit om saam te bid en saam te worstel.

Gelowiges en gemeentes wat in die teenwoordigheid van die HERE vir die nood van mense wat onder die skaduwee van MIV leef, geworstel het, sal self ook verander word om meer van die heerlikheid van Christus te vertoon.

O Skepper van lewe en onderhouer van alles wat goed is, hoor my gebed,
ek wat so eensaam is sedert die MI-virus my lewe vir altyd verander het.
Vigs het my van U vervreem, Here.
Ek vra aanhoudend: Waarom ek? Het ék dit verdien?
Herinner my deur u Gees dat U nie ‘n God is wat
ons straf nie, omdat ons in Christus vrygespreek is;
herinner my dat U nie u skepping straf
deur so ‘n vreeslike siekte oor u eie handewerk te bring nie.
U is God, Immanuel, altyd met ons.

Vigs het my van my eie Iiggaam vervreem, Here.
Ek ken nie meer my liggaam soos dit nou geword het nie
Help my om te onthou dat ek meer is as my lyf;
dat ek een is met U, die volmaakte.

Vigs het my van my gesin en familie vervreem, Here.
O Here, help hulle om te besef dat ék nie verander het nie;
dat ek steeds hulle kind, hul broer, hul familielid is.
Help hulle om hul vrees, verleentheid en skuldgevoelens te verwerk.
Herinner my ouers dat hulle my verwek het,
en dat ek steeds deel van hulle is; dat ons mekaar steeds kan liefhê.
O, help hulle om ‘n deel van my pyn saam met my te dra.

Vigs het my van my vriende vervreem, Here.
U weet hoe belangrik vriendskap nóú, meer as ooit, vir my is.
Help my om hulle onsekerheid en vrees te begryp;
oortuig hulle dat vriendskaplike kontak niemand kan aansteek nie
en stuur hulle weer na my toe – want ek is eensaam, Here.

Vigs het my van die samelewing vervreem, Here.
My werk- en sosiale lewe het in duie gestort:
dit maak so seer dat hulle my vermy.
Vergewe hulle hul onkunde oor hierdie siekte
en verwyder die blinde vrees wat hulle oordeel beïnvloed.
Help my om my woede en teleurstelling daaroor te hanteer.

Vigs het my selfs van die kerk vervreem, Here
Herinner hulle aan u woorde: “Vir sover julIe dit aan een van die
geringstes gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”
Verwyder die veroordeling uit hul harte en maak hulle weer lief vir my
God van my geboorte en my dood, help my om te weet
dat U wat was en is, ook altyd daar vir my sal wees.
Amen.

Uit: Die Groot Gebedeboek, bl 384 (Oorspronklik: K T South)

Author:
du Toit N (Ds)
Language:
Afrikaans