Submitted by Visitor (not verified) on Tue, 08/12/2009 – 15:31
Bible Book: Luke / Lukas
Chapter:9
Verse: 28 – 43
Teks: Lukas 9:28-43

Dit maak sin om die groter gedeelte van Lukas 9:28 tot 9:43 te lees. As ons net tot by vers 36 lees, kan ons maklik vergeet dat wat op die berg gebeur het toe “die voorkoms van sy gesig anders en sy klere skitterend wit” geword het, wel in verband staan met wat “onder die berg by die skare” die dag voor en die dag na dit gebeur het (vergelyk vers 37).

Toe Jesus tot sy Vader gebid het en Moses en Elia verskyn het, het die dissipels iets van sy heerlikheid gesien (vergelyk vers 32b). Hierdie “hemelse glans” was nie meer sigbaar toe Jesus die volgende dag sy ander dissipels en die skare mense ontmoet het nie. In verse 37 en 38 noem Lukas niks van mense wat op Jesus se voorkoms of sy skitterende wit klere reageer nie.

Lukas vertel van die desperate pa van die epileptiese seun met ‘n bose gees wat Jesus smeek om sy seun te help. En dit is wat Jesus gedoen het. “Jesus het die onrein gees skerp aangespreek, die kind gesond gemaak en hom aan sy pa teruggegee” (vers 42b).

In vers 43 lees ons wat die gevolg van hierdie genesing was: “Almal was verslae oor die grootheid van God.”

Wat op die berg gebeur het, het iets van die heerlikheid van Jesus openbaar. Wat die volgende dag gebeur het toe Jesus die siek seun gesond gemaak het, het iets van die grootheid van God openbaar.

Ons het albei nodig. Albei is belangrik.

Daarom is dit goed en belangrik om God in die kerk te aanbid en te prys en van Christus se heerlikheid bewus te word. Dit is ook goed en belangrik om betrokke te wees by die gebrokenheid van die wêreld en om mense te help en tekens van die Koninkryk van God op te rig: genesing; hoop gee; versoening; ondersteuning; om mense aan te raak met die liefde van Jesus.
Om oor na te dink (of te bespreek): Sommige Christene neig daartoe om aanbidding van God bo betrokkenheid in die wêreld te beklemtoon terwyl ander weer betrokkenheid in die wêreld belangriker ag. Wat is jou (ons) prioriteit? Gaan dit om ‘n keuse, ‘n prioriteit of om balans?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans