Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 18/02/2011 – 15:25
Year A (2010-2011)
Bible Book: Leviticus / Levitikus
Chapter: 19
Verse: 1 – 18
Herinneringe uit my kinderdae oor “heilig” en “heiligheid” is vol van streng reëls oor wat jy moet doen en nie mag doen nie. Op Sondag moet jy kerk toe gaan en jy mag nie jou skoolwerk op dieselfde dag doen nie, want dit is ’n “heilige dag.” Om daaraan herinner te word dat “God heilig is”, was skrikwekkend. Dit het dadelik gedagtes van straf vir al die sondes wat jy gedoen het, opgeroep.
Levitikus 19 handel oor “om heilig te wees”, want dit begin met die oproep in vers 2: “Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.”
Verse 3-8 herinner aan God se instruksies oor die Sabbat en die offers wat gebring moet word. Dit sluit aan by die eerste 16 hoofstukke van Levitikus waar die voorskrifte vir (Ou Testamentiese) gemeenskap met God uiteengesit word. In verse 9-18 val die klem op wat God van sy mense, met wie Hy gemeenskap het, verwag. God verwag dat hulle sal getuig dat hulle aan die Heilige God behoort deur heilig te leef.
Wat sal die inhoud van hulle getuienis, hulle heilige lewenswyse, wees? Hulle sal in al hulle verhoudings volgens die karakter van die Heilige God optree. God is vrygewig – Hy laat die son skyn en gee reën aan almal wat op die aarde leef – en daarom moet sy mense vrygewig wees wanneer hulle die oes van die veld haal en iets vir diegene in nood los (v 9-10).
Verse 11-18 (behalwe vers 12) beskryf verhoudings wat bepaal word deur eerlikheid, integriteit, geregtigheid, goedhartigheid en liefde. Let op dat hier hoofsaaklik oor gewone, alledaagse handelinge gepraat word.
“Being holy is therefore largely about how we treat other people … Holiness consists of ordinary everyday godly acts, such as taking care of our families or looking after the rights of the poor and strangers. Choosing honesty and truth–that’s godly. Paying workers, treating disabled people with respect, refraining from malicious gossip–that’s holy” (A J Heschel).
Regverdige en getroue verhoudinge weerspieël God se heiligheid. Om so teenoor jou naaste op te tree, is heilig, ’n handeling van toewyding aan God! Hoe opbeurend om te weet dat Levitikus 19 ons daaglikse, doodgewone dade uit die “ordinêre” lig en dit ‘n “hemelse glans” gee.
Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe kan ons in ’n wêreld met MIV en vigs getuig dat ons aan die Heilige God behoort?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans