Met die lees van Psalm 30 het ek baie bewus geword van die waarde van die lewe hier op aarde. En hoe meer ek die Psalm gelees het, hoe meer het dit ‘n vreugdevolle lied van lof aan God geword – juis omdat die psalmdigter God se wonderlike gawe van die lewe vier.
Die lewe is goed, want dood, die teenoorgestelde van lewe, is vreeslik en angswekkend (vgl verse 4 & 10). Waar dood heers, word getreur en is daar rouklere (vers 12).
Die lewe is goed, want God het hom/haar gesond gemaak (vers 3). Daarom word daar nou gedans in plaas van gerou. God “het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek” (vers 12).
Die lewe is goed omdat dit ‘n simbool van God se guns is wat vir ‘n leeftyd duur, al duur sy toorn wel ‘n oomblik (vers 6). En wanneer die dag ná ‘n nag van hartseer met vreugde breek, wéét jy dat die lewe ‘n kosbare geskenk van God is (vgl vers 5b).
Tog – hoewel die ervaring van God se guns die indruk mag skep dat jy stewig op ‘n vaste berg staan (vgl vers 7-8a) – is dit verkeerd en gevaarlik om te dink dat jy onwankelbaar is (vgl vers 7). Die lewe is kosbaar, maar dit is breekbaar. Die moment wat God sy aangesig wegdraai, verdwyn vertroue en keer vrees terug (vers 8b).
In die teenwoordigheid van die lewende God bly die lewe goed. In sy teenwoordigheid is daar vreugdedans (vers 12). Daarom sing die psalmdigter tot God en dank Hom (vers 13).
Miskien is dit die rede waarom hierdie Psalm gebruik is vir die inwyding van die temple (vgl die opskrif van die Psalm) – want as ons die goeie lewe wat God gee, wil leef, moet ons Hom aanbid en in sy teenwoordigheid lewe.
Die lees van hierdie Psalm het my herinner dat ek bevoorreg is om persoonlik te kon ontdek – van mense wat met MIV leef – hoe kosbaar en ook hoe kwesbaar die lewe inderdaad is.
Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe verander die gedagte, “die lewe is ‘n kosbare geskenk van God”, die wyse waarop ons God aanbid? Hoe verander die gedagte, “die lewe is kwesbaar”, die wyse waarop ons ons daaglikse lewens lei?