NULL
Bible Book: Mark / Markus
Chapter: 7
Verse: 24
Verse (to): 30

Markus 7:24-30

Ons lees in hierdie verhaal hoe Jesus, die Jood, na ‘n nie-Joodse gebied gegaan het. Maar dit was nie as die eerste sendingreis na die nie-Jode bedoel nie. Dit sou eers later gebeur – ná die kruising, opstanding en uitstorting van die Heilige Gees.
Jesus en sy dissipels het na ‘n stil plek gegaan om te rus. Terwyl hulle daar was, het ‘n klein insident gebeur. Nou, terwyl Markus sy evangelie skryf, onthou hy hierdie insident en besef hy dat wat daar gebeur het, eintlik ‘n profetiese gebeurtenis was, ‘n vooruitwysing na die nuwe tyd wat sou aanbreek na Jesus sy sending na die Jode voltooi het.
Miskien het Jesus aan hierdie nuwe tyd gedink toe hy doelbewus na Tirus gegaan het (v 24)? Is dit moontlik dat Hy juis vooruit gekyk het na die tyd wat sou kom – waar geen skeidingsmure tussen Jode en Grieke meer sou geld nie – en dat Hy daarom die skeiding van “kinders en hondjies”, wat nog gedurende sy bediening aan Israel gegeld het, na vore gebring het (v 27)? Ons weet nie.
Wat ons wel weet, is dat hierdie nuwe tyd, waar die skeidingsmure afgebreek is, inderdaad aangebreek het en dat ons tans daarin leef (vgl Efes 2:13&14)! Nou kan almal wat voorheen uit die verbond met Israel uitgesluit was, in God se Shaloom ingesluit word (vgl Efes 2:17). Jesus is die brood van lewe wat gekom het sodat ons almal lewe kan hê – in oorvloed. Geen meer “krummels” vir die “hondjies” by die tafel van die “kinders” nie!
Sou dit moontlik kon wees dat ons hiervan bewus kan wees en tog nog volgens die ou tyd leef? Sou dit moontlik kon wees dat ons hierdie verhaal misverstaan en kan dink dat Jesus se verwysing na die onderskeid tussen die kinders en die hondjies ‘n aanduiding is van wat moet wees? Sou dit moontlik kon wees dat ons as kerkmense in der waarheid kon dink dat ons die kinders is en “daardie ander” die “hondjies”?
Om oor na te dink (of te bespreek): Die Griekse vrou van Siro–Fenisië, wat Jesus gesmeek het om haar dogter te help, was ‘n stem vir die stem-lose.Waar hoor ons vandag sulke stemme wat om hulp roep? En hoe reageer ons daarop?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans