NULL
Bible Book:
Exodus / Eksodus
Chapter: 1
Verse: 17
Verse (to): 0

 

Die vroedvroue van Egipte, hier reg aan die begin van Eksodus, kan maklik by ’n mens verby glip as minder belangrike rolspelers wat net daar is om die groter prentjie van die stryd tussen die Egiptiese koning en die Israeliete vol te maak in die agtergrond.  Maar dit is juis hierdie soort karakters wat elke nou en dan in die Bybelse verhale opduik as juis diégene wat God as sleutel rolspelers gebruik in Sy groter plan.  Die Egiptiese koning voel bedreig deur die sterker wordende Israelitiese nasie.  Hy gee opdrag aan die vroedvroue dat, wanneer hulle die Hebreeuse vrouens bystaan met geboorte, hulle die seuntjies wat gebore word moet doodmaak.  Die vroedvroue reageer met ’n daad van ongehoorsaamheid en verset teen die koning, omdat hulle eerder aan God gehoorsaam wil wees.  Hulle gee die koning ’n heel verstaanbare antwoord oor waarom hulle nie sy opdrag uitvoer nie, nl. dat die Hebreeuse vrouens “sterk van gestel” is en al klaar geboorte geskenk het wanneer hulle daar aankom, maar ten diepste was dit omdat hulle God wou dien (1:19).  Hiervoor het God hulle voorspoedig gemaak en geseën met huisgesinne (1:20-21).

Vroedvroue is as’t ware “fasiliteerders tot lewe”.  Dit is hulle beroep om te sorg dat ander geboorte kan skenk en dat nuwe lewe kan voortvloei.  Dit is die soort beroep waartoe God al Sy kinders, vandag nog, roep.  Dit maak nie saak watter ander loopbane ons volg of waarmee ons ons dae vol maak nie, ons primêre roeping as gelowiges is om “lewe te fasiliteer”.  Dit kan baie vorme aanneem, want die dood is volop.  God plaas elke dag talle geleenthede op elkeen van ons se pad waar ons onsself kan verset teen die magte van die dood, en waar ons Sy instrumente kan wees om nuwe lewe te bring in wanhopige, doodloop situasies.  Nie een van ons is té klein rolspelers in hierdie Lewe-gewende plan van God nie.  Ons mag dalk dink dat ons maar hier op die agtergrond rondploeter, maar eintlik beskou God ons as ‘n uiters belangrike “vroedvrouens” en “vroedmans” in Sy plan vandag.  Dink so oor jouself!  En kyk rond vandag vir die geleenthede tot lewe!
“Die lewe is ‘n roos, ruik dit, geniet dit en gee dit aan vir vriende.”
(Persiese Spreekwoord)
Author:
J Swart (Ds)
Language:
Afrikaans