Bible Book: Psalms
Chapter: 34
Verse: 1
Verse (to): 23

 

Psalm 34

Daar is baie in hierdie Psalm wat ons daaraan herinner dat die lewe vol moeilikhede kan wees – selfs vir mense wat in God glo. In vers 3 vra Dawid “die wat swaar kry” om na sy lied te luister. In vers 5 erken hy dat hy bang was (vgl 1953 vertaling). In vers 7 vind ons ‘n verwysing na die agtergrond van hierdie Psalm: “Ek is een van die ellendiges wat geroep het. Die Here het gehoor, uit al my benoudhede het Hy my gered” (1983 vertaling).  Vers 11 herinner ons dat ons in ‘n wêreld leef waar selfs sterk mense wat soos roofdiere (leeus) leef, honger kan wees. Volgens vers 17 beleef selfs regverdiges benoudhede wat hulle na die Here laat roep. In vers 19 ontmoet ons die “gebrokenes” en “moedeloses”. Vers 20 som dit op: “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom” (1953 vertaling).

Naas hierdie draad van die probleme en swaarkry van die lewe is daar nog ‘n draad wat deur die Psalm loop: God se goedheid en sorg.

Dawid getuig dat God hom geantwoord het en gered het (vers 5). In vers 7 herhaal hy dat die Here hom gehoor en gered het. Daarom kan hy sy luisteraars verseker dat die “Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit” (vers 8 – 1953 vertaling).  God voorsien in die behoeftes van “wie die Here se hulp vra” (vers 11). Verse 16 tot 23 vertel van God wat sorg (vers 16), wat sy mense se hulpgeroep hoor (vers 18), wat naby aan hulle is (vers 19), wat red (verse 18b, 20b) en beskerm (vers 21) en wat van veroordeling verlos (vers 23).

Wat is die verband tussen hierdie twee drade? Hoe kan hierdie Psalm ons help om moed te skep en bly te wees (vgl vers 3b) – selfs al is ons hulpeloos?

Vir my lê die antwoord in die besef dat hierdie Psalm oor ‘n dinamiese verhouding tussen die lewende God en ‘n (gewone) mens handel. Die Psalm nooi die leser/luisteraar uit na so ‘n verhouding.
Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe kan ons mense wat moeilikhede ondervind, ondersteun om van God se goedheid en sorg bewus te word?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans