Year A (2010-2011)
Bible Book: Nehemiah / Nehemia
Chapter: 8
Verse: 1
Verse (to): 10

Teks: Nehemia 8:1-10

Die Woord

Nehemia 8:1-10 en Psalm 19 plaas die klem van die derde Sondag na Epifanie op die Woord/Skrif. In die herontdekking van die Woord skyn die lig van God (verskyn God). Ockert Meyer beskryf die “verligtende” rol van die Woord om ons tot begrip en ontdekking lei, uitstekend. (BUVTON se “Preekstudies met liturgiese voortstelle Advent 2003 tot Koninkrykstyd 2004”)

Die Woord doen meer as net om kommunikasie tussen ons en God te bemiddel. Dit skep ook gemeenskap. Nehemia 8 vertel dat die volk bymekaar gekom het (vers 2), hulle word ‘n gemeente genoem (vers 3,4 ens.), hulle het gesamentlik daarop gereageer deur te huil (vers 10) en hulle het saam fees gevier (vers 13)! 1 Kor 12:21-31 sluit goed hierby aan. Die gemeente wat deur die Woord tot liggaam saam gevoeg word, oorwin alle meerderwaardigheid (jy is nie belangrik nie – vers 21 e v) en minderwaardigheid (ek is nie belangrik nie – vers 15 e v).

Maar die Woord bring soms ook verdeelheid! Daarvan vertel Lukas 4:14-21. Toe Jesus die ware lig van die Woord in Nasaret laat skyn, kon mense dit nie hanteer nie en verdryf hulle hom! Toe Hy leer dat God se liefde die weduwee van Sarfat en die melaatse Naäman insluit, was hulle woedend.

Waarom reageer mense so maklik met vooroordele en afsydigheid teenoor persone wat MIV positief is? Waarom het “die kerk” daartoe bygedra dat geïnfekteerde mense gestigmatiseer word? Waarom raak ons so gou vigs-voos?

In die lig van Sondag se vier tekste kan ons die antwoord op hierdie vrae begin soek in die verwaarlosing van die feit dat die Woord ook gemeenskap skep. Dit maak ons nie net nuwe mense “voor God” nie – dit maak ons ook nuwe mense “teenoor ons medemense”.

Ons kan Sondag met vrymoedigheid beklemtoon dat die lig van die Woord ons help om met Christus se liefde na weduwees en melaatses te kyk. (Vir baie mense in ons samelewing is vandag se “melaatses” die MIV geïnfekteerde en geaffekteerde mense – iets wat binne die gemeenskap wat die Woord skep, ondenkbaar is.)

 

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans