Bible Book: Matthew / Matteus
Chapter: 15
Verse: 21
Verse (to): 28
Mattheus 15:21-28
Soms moet ons die evangelie van Matteus lees soos ‘n mens na ‘n skildery van een van die groot meesters kyk. Dit is goed om noukeurig op elke kwas-haal te let, maar as jy regtig wil sien hoe wonderlik die prent is, moet jy terug staan om ‘n beter indruk van die geheel te kry. Ek dink ons het hierdie beginsel nodig om die verhaal van die ontmoeting tussen die Kanaänitiese vrou en Jesus beter te verstaan.
Matteus lei Hoofstuk 15 in deur te vertel van die konfrontasie van die Fariseërs en skrifgeleerdes met Jesus: Hoe kan Hy toelaat dat sy dissipels eet sonder om hulle hande te was (vgl verse 1 & 2)? Hulle blameer Jesus daarvan dat Hy en sy dissipels nie tussen rein en onrein onderskei nie. Deur met ongewaste hande te eet, maak hulle hulleself onrein.
Matteus sluit hierdie hoofstuk af deur te vertel van die menigte mense van die omgewing van Tirus en Sidon (vers 21) en die omgewing van die see van Galilea (vers 29) wat in die woestyn of verlate plek feesvier (vers 33) met die brood wat Jesus voorsien (vers 36). Vanuit die sienswyse van die Fariseërs en skrifgeleerdes is dit ongehoord: Kanaäniete en ander heidene en Jode wat saam eet – waarskynlik sonder om hulle hande te was! Vir Matteus is dit ‘n teken van die Koninkryk wat Jesus in hierdie wêreld teenwoordig stel.
Wat gebeur tussen hierdie twee teenoorstaande posisies waarmee die hoofstuk begin en eindig? In verse 10-20 verduidelik Jesus aan sy dissipels dat onreinheid nie ‘n saak van rituele is nie, maar van die hart. Deur sy gesprek met die Kanaanietiese vrou (verse 24-28) leer Hy hulle dat nie-Jode nie onrein mense is nie.
Die dissipels is toeskouers van die ontmoeting tussen Jesus en die Kanaänitiese vrou. Na hulle aanvanklike protes teen haar teenwoordigheid en geskreeu (vers 23), raak hulle stil. Maar hulle hoor Jesus se gesprek. Dit klink asof Jesus alles wat húlle as besware sou opper dat Hy haar help, gebruik in sy gesprek met haar. En dan gaan hulle oë oop vir haar geloof. “Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul” (vers 28).
Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe kan ons idees van “rein” en “onrein” ons daarvan weerhou om die Koninkryk van God met mense wat met MIV leef, te deel?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans