Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 12:19
NULL
Bible Book: Ephesians / Efesiers
Chapter: 5
Verse: 8 – 14
Efesiërs 5:8-14

Ons skriflesing vorm deel van ‘n erstige en sterk oproep om ‘n “lewenswandel in ooreenstemming .. met die roeping wat julle van God ontvang het”, te lei (4:1; vgl 4:17 en 5:1-2). Na verskeie waarskuwings teen sondige gedrag – omtrent elke keer met ‘n positiewe voorbeeld gebalanseer – verhelder Paulus nou sy argument met die beeld van lig en duisternis.

Duisternis verteenwoordig die lewens van diegene aan wie Paulus skryf vóór hulle daartoe gekom het om in Jesus Christus te glo. Die lig verteenwoordig hulle lewens nou dat hulle die Here ken. “Leef dan as mense van die lig!” is sy oproep in 5:8.

Daar behoort geen onsekerheid te wees dat Christus in die wêreld gekom het, aan die kruis gesterf en opgestaan het, om ons van ewige duisternis te verlos nie. Christus is die lig en in Hom vind ons die lig. Tog neem dit nie weg dat baie Christene donker wolke in en oor hulle lewens beleef nie. Ons is gered van die duisternis, ons het die lig in Christus gevind, maar dit beteken nie dat elke hoekie en aspek van ons lewe sonder skaduwee is nie.

Wanneer ons dit raakgesien het, is die vraag: Wat beteken Paulus se oproep in 5:11 om praktyke van die duisternis aan die kaak te stel? (Vgl 1953 vertaling: “bestraf die liewer”.)

Dit is belangrik om te onthou dat Paulus se opdragte oor die lewe in Christus reeds by 4:1 begin het en daarom moet ons 5:11 saam met 4:32 lees. Hier stel Paulus duidelik: “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.” Onthou ook hoe Jesus uitgereik het na mense in wie se lewens daar donker skaduwees van verskillende aard was. Daarom beteken om “praktyke van die duisternis aan die kaak te stel”, dat Christene liefdevol moet getuig vir dit wat waar en reg is. Dit is wat Paulus in hierdie brief van 4:1 tot 5:20 doen.

MIV en vigs het ‘n besondere manier om donker wolke in mense se lewens sowel as oor gemeenskappe te bring. Ons uitdaging is om lig-draers te wees wat vrug dra volgens 5:9 – wat “goed en reg en waar is” sowel as om self te doen wat vir die Here aanneemlik is (vgl 5:10).

Om oor na te dink (of te bespreek): Ken jy ‘n organisasie wat aktief besig is om lig in mense se lewens te bring wat in die skadu van MIV en vigs leef? Wat kan jy doen om hulle te help? (As jy nie van so ‘n organisasie weet nie, kan jy op die CABSA projek databasis na organisasies soek.

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans