Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 04/12/2009 – 14:23
Bible Book: 1 Kings / 1 Konings
Chapter: 3
Verse: 4 – 15
1 Konings 3:4-15

“Salomo se gebed om wysheid” klink na ‘n goeie opskrif vir hierdie Skrifgedeelte. Maar wanneer ‘n mens die gedeelte noukeurig lees, word dit duidelik dat Salomo se versoek in vers 9 nie maar net oor wysheid gaan nie – veral nie die soort slimheid en breinkrag wat dikwels in ons tyd so hoog geag word nie.

In die eerste plek vra Salomo vir ‘n hart wat kan luister (v 9a). Dit is nie ‘n selfsugtige versoek nie, want die rede vir hierdie bede is dat hy dit benodig om God se volk reg te regeer (v 9c). Goeie regering sal net moontlik wees as hy tussen goed en kwaad kan onderskei (v 9b). God vind hierdie versoek goed en som dit in vers 11 met drie woorde op: “understanding (to) discern judgment” (AV). Verder belowe Hy om Salomo ‘n “wyse en verstandige hart” te gee (v 12 – 1953 vertaling).

Wat sal jy bid as God hierdie spesiale uitnodiging aan jou rig: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?” (v 5 – 1983 vertaling).

Dit is maklik om ‘n antwoord te gee wat in lyn is met Salomo se gebed. Maar kom ons wees eerlik – wat was die ernstigste gebed wat jy die afgelope week gebid het?

“Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee”, het Jesus volgens Mat 6:33 gesê.

Hoewel hy eeue voor die koms van Christus geleef het, het die jong Salomo ‘n belangrike beginsel van die Koninkryk van God verstaan – dit begin dikwels met ‘n nuwe hart wat God gee wat kan luister, verstaan en die behoeftes van mense kan onderskei.

Om oor na te dink (of te bespreek): Moet ons ons gebede wat ons in hierdie tyd van MIV en vigs en ekonomiese swaarkry bid, verander?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans