Bible Book: Jonah / Jona
Chapter: 3
Verse: 1 – 10
Jona 3:1-10
Sommige Bybelverklaarders meen dat Nineve se dramatise bekering nie net die gevolg van Jona se boodskap van komende verwoesting was nie, maar dat sy verskyning op die strate van die stad saamgeval het met een of ander dramatiese gebeurtenis, soos byvoorbeeld ‘n vloed, of oorlog of aarbewing of algehele sonsverduistering. Hulle was reeds hierdeur diep geruk en daarom was die boodskap van Jona die laaste strooi wat hulle tot bekering gebring het.
Met die lees van die Skrifgedeelte hier aan die begin van ‘n nuwe jaar het my gedagtes na die wyse waarop die vorige jaar geëindig het, gedwaal. Hierdie jaarwisseling het die meeste van ons met baie dramatise gebeure gekonfronteer: die ekonomiese ineenstorting, die oorlog in die midde-Ooste, die situasie in Zimbabwe, om enkeles te noem.
Die wonderlike aspek van die verhaal van Jona in hoofstuk 3 is dat al verkondig hy ‘n boodskap van verwoesting, is God se intensie nie die onmiddellike vernietiging van Nineve nie, maar hulle bewaring. Dit is moontlik dat die inwoners van die stad hierdie aanbod van bewaring in Jona se boodskap gehoor het en daarom gryp hulle dit met albei hande aan.
Die goeie nuus is dat God tevrede is met hulle reaksie. “Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring” (vers 10).
Hierdie verloop herinner my aan die gelykenis van die vyeboom in Lukas 13:6-9. Die gelykenis vertel ook van dreigende vernietiging wat omgekeer is in ‘n nuwe moontlikheid. Die vyeboom word gespaar om vrugte te dra.
Niemand weet hoe die jaar 2009 sal eindig nie. Maar dít weet ons: dit sal geleenthede om na God te draai en om sy Koninkryk te dien, bring.
Om oor na te dink (of te bespreek): Wat sou jy omtrent MIV en vigs doen as jy geweet het dat jy slegs beperkte tyd het om dit te doen?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans