Abraham se volharding in hoop en geloof word byna grafies in verse 19 en 20 beskryf: aan die een kant het hy God se belofte gehad en aan die ander kant is hy gekonfronteer met sy en Sara se liggame van byna 100 jaar wat lank reeds verby “die tyd van kinders kry” was. Wat God belowe het en wat hy met sy sintuie waargeneem het, was twee teenoorgestelde werklikhede.
Vers 18(a) vertel waarom Abraham die vader van die gelowiges genoem word: “Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword”. Vergelyk gerus ‘n paar verskillende vertalings van vers 18 om te sien hoe Paulus die hoop en die geloof hier ten nouste met mekaar verbind.
Abraham het God se belofte gehad. Hy het daaraan vasgehou (dit onthou). Hy het bly hoop en glo en God het hom dit tot geregtigheid gereken (vers 22).
Die tweede Sondag van die lydenstyd staan bekend as “reminiscere” (onthou / dink aan). Ons het soveel meer as Abraham om te onthou: Hy het God se belofte gehad. Ons kan vashou aan God se verlossingwerk in Jesus: “Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word” (vers 25).
Wanneer ons aan die een kant oorweldig word deur ‘n stukkende wêreld waarin ons persoonlike lewens dikwels soos doodloopstrate lyk, het ons aan die ander kant die herinnering aan wat Jesus vir ons gedoen het. Die vigspandemie is deel van hierdie stukkende wêreld wat vir baie beteken dat hulle lewens doodloopstrate geword het. Daarom kan ons ook in hierdie tyd bely: ons glo in God “wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het” (vers 24). Dit spreek vanself dat Paulus met die verwysing na Jesus se opwekking impliseer dat Jesus vir ons gely en gesterf het.
Abraham het God se belofte gehad – hy het in ‘n skynbaar wanhopige situasie bly hoop .. en geglo. Ons het God se verlossingswerk in Jesus – en ons kan in ‘n skynbare wanhopige situasie bly glo .. en hoop.
Om oor na te dink (of te bespreek): Watter verskil maak dit wanneer ’n mens kan bly hoop?