Bible Book: Romans / Romeine
Chapter: 4
Verse: 1
Verse (to): 17

 

Romeine 4:1-17

Om Paulus se gedagtegang in die eerste verse van hoofstuk 4 te volg, is dit nodig om weer 3:27-28 te lees: “Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof. Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.”
Die goeie nuus dat ons deur geloof in Christus geregverdig word en nie deur goeie dade volgens die wet nie, beteken dat alle gronde vir roem oor jou posisie van regverdiging gekanselleer word. Om aan te toon dat hierdie beginsel reeds in die Ou Testament gevind word, maak Paulus in vers 2 (van hoofstuk 4) die stelling dat Abraham in werklikheid nie iets het om op te roem nie. Om sy argument te staaf, haal Paulus Genesis 15:6 aan en verduidelik dat Abraham geregverdig is omdat hy geglo het.
Sommige van die eerste lesers van hierdie brief moes Joodse Christene gewees het – mense vir wie die belangrikste waarheid oor hulleself steeds kon wees dat hulle ware Hebreërs is. Vir ‘n ware Hebreër gaan dit daarom dat hulle afstammelinge van Abraham is, dat hulle die wet ontvang het en dat hulle volgens die wet leef (vgl Fil 3:5). Vir hulle is dit geldige redes om te roem en seker van hulleself te wees. Ek kan my voorstel dat hierdie gedeelte van die brief vir hulle baie moeilik verstaanbaar kon wees. Dit sou waarskynlik tot ernstige meningsverskil met Paulus aanleiding gegee het.
Met hierdie eerste Joodse Christene kan ek simpatiseer. Hulle was gebore en getoë om so te dink. Daarom moes dit vir hulle moeilik gewees het om te begryp dat regverdiging deur geloof in Christus deur geloof alleen geskied – nie deur werke nie (vgl 4:1-8); nie deur rituele nie (vgl 4:9-12) en nie deur die wet nie (vgl 4:13-15).
Dat die eerste Joodse Christene met hierdie waarhede geworstel het, is verstaanbaar. Wat egter moeiliker te verstaan is, is waarom ons 2,000 jaar later steeds met hierdie beginsels worstel? Ons is steeds geneig om in onsself te roem. Dit is so maklik om iemand wat oënskynlik blyk te gesondig het (die wet volgens ons verstaan daarvan gebreek het) as minder as onsself te ag.
Dink jy dat ek oordryf? Waarom is daar dan soveel Christene wat dit moeilik vind om met mense wat met MIV leef, te identifiseer?
Om oor na te dink (of te bespreek): Is dit nie gevaarlik om geloof te beklemtoon terwyl daar tog ook ander belangrike sake is nie? Lees Filippense 3:5-11.
Author: (Unknown)
Language: Afrikaans