Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 04/12/2009 – 13:24
Bible Book: 1 John / 1 Johannes
Chapter: 5
Verse: 1 – 14
1 Johannes 5:1-14

Ek stel my voor dat daar baie Christene is wat deur 1 Joh 5:10-12 tot geloofsekerheid en bevestiging van hulle verhouding met God gekom het. Dit was inderdaad die bedoeling van die skrywer van hierdie ingewikkelde brief om aan volgelinge van Jesus Christus sekerheid oor die ewige lewe te gee. Ons hoor dit duidelik in die volgende vers: “Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo” (vers 13).

Dit is egter belangrik om te onthou dat hierdie brief van Johannes nie met die uitsluitlike doel om aan sy lesers sekerheid van die ewige lewe te gee, geskryf is nie – so asof wat in hierdie lewe gebeur van minder belang is as wat gebeur wanneer jy sterf. Inteendeel – hierdie brief is vol riglyne oor die lewe, die hier en die nou.

Blaai deur die brief en jy sal sien hoeveel daar oor ons daaglikse lewe geskryf is. Telkemale kom Johannes terug na die belangrikheid daarvan om ‘n Christelike lewe volgens God se voorskifte te leef. Ons moet in die lig lewe (1:5-10), in gehoorsaamheid lewe (2:3-17), as kinders van God moet ons sonder vermy (2:28-3:10), mekaar liefhê (3:11-24), in God se liefde lewe (4:7-21).

Die onderliggende basis van ‘n lewe wat toegewy is aan gehoorsaamheid aan God, is die seker wete dat jy verlos is. Die regte geloof lei to suiwer optrede. Nie omdat ons slawe is nie, maar omdat ons kinders van God is.
Dit herinner my aan wat twee Duitsers lank terug, omtrent 1562, in baie onseker tye geskryf het: Ons enigste troos in lewe en dood, het hulle geskryf, is “dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe. (Die Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 1, geskyf deur Zacharias Ursinus en Caspar Olevianus.)

Om oor na te dink (of te bespreek): Wat troos jou in moeilike tye – of wanneer jy deur MIV of vigs gekonfronteer word?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans