Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 11/06/2010 – 10:40
Year C (2009-2010)
Bible Book: Galatians / Galasiers
Chapter: 2
Verse: 11 – 21

In hierdie gedeelte van Gal 2:11-21 skryf Paulus oor ‘n gebeurtenis wat ‘n geruime tyd voor die skryf van hierdie brief gebeur het. Hy is heeltemal openlik daaroor dat hy Petrus (Sefas) in die openbaar teengegaan het (“hom openlik teëgestaan”, v 11 – 1853 vertaling) en hom met sy verstaan van die wyse waarop ons deur God vrygespreek (geregverdig) word, konfronteer het. Volgens vers 16 is dit duidelik dat daar vir Paulus net een manier is om deur God vrygespreek (geregverdig) te word – “alleen deur in Jesus Christus te glo”.

Wanneer Paulus hierdie gedeelte afsluit, beklemtoon hy in vers 21 dat sy diepste motief die erkenning van God se genade is. “Ek verwerp nie die genade van God nie.”

Paulus se argument is dat ons deur God vrygespreek word alleenlik deur ‘n genadehandeling wat ons deur geloof in Christus deelagtig word.

Wat my getref het toe ek hierdie gedeelte weer gelees het, is dat Paulus se konfrontasie met Petrus nie oor Petrus se prediking of lering gegaan het nie, maar oor Petrus se optrede. Daar is geen verwysing in hierdie gedeelte na Petrus se lering nie. Maar ons lees dat Petrus die wyse waarop hy met die gelowiges wat nie Jode was nie, gesosialiseer het, verander het.

Aanvanklik was Petrus gemaklik om met die nie-Joodse gelowiges in Antiogië sosiaal te verkeer (vgl v 12a – “het Sefas gewoonweg saam met nie-Joodse gelowiges geëet”). Maar na ‘n sekere groep van Jerusalem arriveer het, “het hy hom onttrek en hom eenkant begin hou” (v 12b). As gevolg van die teenwoordigheid van hierdie mede Jode het Petrus skaam geword om gesien te word dat hy saam met mede nie-Joodse gelowiges broers en suster eet. Daarom het hy hom van hulle onttrek.

Volgens Paulus het hierdie nuwe gesindheid en optrede van Petrus nie alleen die nie-Joodse Christene affekteer nie (hulle moes verwerp gevoel het) – dit het in werklikheid die evangelie van genade deur geloof in Christus op die spel geplaas.

Vir Paulus is dit ondenkbaar om die evangelie van vryspraak deur geloof in Jesus Christus te verkondig – om vir mense van die omhelsende genade van God te vertel – en terselfdertyd jou van medegelowiges in Christus te distansieer. Genadelose optrede van Christene is teenstrydig met die beginsels van die evangelie.

Om oor na te dink (of te bespreek): Sou dit moontlik wees dat die wyse waarop Christene dikwels teenoor mense wat met MIV leef, reageer (stigmatiserende optredes) in werklikheid die evangelie in gedrang bring?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans