Bible Book: Revelation / Openbaring
Chapter: 21
Verse: 10
Verse (to): 0

 

Teks: Openbaring 21:10, 22-22:5

Daar word twee alternatiewe lesings vir hierdie Sondag gegee. Die RCL gee Joh 5:1-9 en die Episcopal Lectionary Hand 14:8-18. Albei verhale handel oor genesings. Johannes 5 vertel hoe Jesus die man wat agt en dertig jaar siek was by die bad van Betesda genees het. In Handelinge 14:8-10 lees ons hoe Paulus in Listra ‘n man genees het wat van sy geboorte verlam was.
Johannes vertel in Openbaring 22:2 dat hy die boom van die lewe in die heilige stad Jerusalem gesien het: “Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.” Die vrugte en die blare van die boom onderhou lewe. In die heilige Jerusalem sal daar lewe in oorvloed wees want die troon van God en die Lam is daar (22:1,3) en sy dienaars sal God sien (22:4).
Dit is ‘n wonderlike visie van die erfenis wat God in die hemel vir sy geseënde kinders bewaar (vergelyk Mat 25:34 en 1 Pet 1:4). Terwyl ek hierdie gedeeltes gelees het, het ‘n vraag herhaaldelik by my opgekom: Wat beteken genesing en gesondheid vandag in die wêreld waarin ons leef?
Is gesondheid ‘n luukse kommoditeit wat jy kan koop as jy genoeg geld het? Of is dit ‘n demonstrasie van hoe sterk jou geloof in God is? Is dit die afwesigheid van alle lewens-bedreigende elemente in my liggaam? Is ek gesond wanneer ek dink alles is reg, maar ek is onbewus van die hartdefek wat ek van my pa ge-erf het? Is iemand wie se kanker behandel is en in remissie is, gesond?
Sulke vrae kan vermenigvuldig word en het nie eenvoudige antwoorde nie. Maar ons kan hulle nie ignoreer nie. Ons opinies hieroor beïnvloed ons denke en optrede ten opsigte van MIV en vigs.
Daar is goeie nuus: By mense wat ‘n manier gevind het om positief met MIV te leef, is daar baie te leer.
Dit maak nie saak hoe jy gesondheid en genesing definieer nie – dit is gawes van God.
Om oor na te dink (of te bespreek): Op watter wyse het jy vandag behoefte aan genesing? Hoe kan jy meer sensitief teenoor ander mense se behoefte aan genesing wees?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans