Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 12:50
Bible Book: Genesis
Chapter: 39
Verse: 1 – 23
Teks: Genesis 39

Wanneer ‘n mens na die verhaal van Genesis 39 vanuit die konteks van die VIGSpandemie kyk, trek Josef se keuse om “nee” te sê vir Potifar se vrou jou aandag. Een van die belangrike aspekte van die gesprek wat MIV en VIGS genoodsaak, is die gesprek rondom onthouding. Vinnig gelees, lyk Genesis 39:7-20 na ‘n pragvoorbeeld van onthouding.

‘n Deegliker lees van Genesis 39 toon egter dat dit in hierdie verhaal om veel meer as seksuele versoekings en die oorwinning daarvan gaan. Die hoofstuk vorm ‘n onderdeel van die groter verhaallyn van Genesis 39 – 41. Die verteller gee in hoofstuk 39 vir die hoorder (leser) twee duidelike merkers waarmee hierdie onderdeel van die groter verhaal afgebaken word:
– Verse 1 en 2 vertel dat Josef as slaaf verkoop is en “die Here was by Josef”.
– Verse 20 en 21 vertel dat Josef in die tronk gegooi was en ook daar “was die Here by hom”.

Met hierdie verklarings toon die verteller dat die verhaal van Josef se verkoop as slaaf, sy getrouheid aan sy eienaar, sy weerstand teen sy eienaarres se ongeoorloofde opdrag en sy tronkstraf, meer is as ‘n “heldeverhaal”. Josef is in die eerste plek ‘n geseënde, ‘n begenadigde. ‘n Begenadigde ten spyte van swaarkry en te midde van versoekings. Iemand wat in die stroomversnellings van die lewe beland het, maar wat een ding nie “verloor” het nie – God se teenwoordigheid. Beter gestel: God het nooit vir Josef uit sy hand laat val nie.

Deur God geseën en vergesel, ontwikkel Josef se karakter in Egipte en sien ons dit in sy getrouheid en lojaliteit teenoor Potifar en selfs die tronkbewaarder. Die konflik met Potifar se vrou dien dan ook by uitstek om Josef se karakter as geseënde en begenadigde na vore te bring.

As ons dus getrou aan die verteller van Genesis 39 oor seksuele onthouding wil praat, moet ons dit binne die konteks van God se seënende teenwoordigheid doen. Vir ons beteken die seënende teenwoordigheid van God dat die Heilige Gees ons kom troos en leer en lei. Hier vind ons die bron vir verantwoordelike seksuele keuses.

Prakties beteken dit dat jonk en oud (seksuele keuses is nie net jongmense se uitdaging nie) man en vrou (ons moet versigtig wees om ‘n verleiersrol aan een geslag te impliseer) sal ontdek dat ons seksuele keuses voor God plaasvind.

Ook wanneer ons nie bewustelik God se nabyheid ervaar nie (waarskynlik was Josef self nie so bewus daarvan dat die Here by hom was nie) behoort ons in ons keuses te onthou wat ons uit sy Woord leer:
– dat ek self en die ander persoon kosbaar is vir God;
– dat God ons geskep het om verantwoordelikheid te aanvaar (rentmeesters te wees);
– dat liggaamlike en seksuele gesondheid ‘n kosbare gawe van God is wat ons moet koester;
– dat daar geen ware vreugde en vervulling kan wees wanneer ons betrokke is by oneerlikheid, onreg, vernedering of seermaak nie;
– dat ware vreugde en vervulling volg waar daar wedersydse respek, agting, lojaliteit, trou, versorging, koestering ens, ens. is;
– dat seksuele gemeenskap wedersydse liefde (=instemming!) veronderstel;
(daar is baie meer…)

NASKRIF: Ek dink een van die groot uitdagings vir die prediker wat oor onthouding wil praat, is om dit so te doen, dat hulle wat dalk reeds die teendeel beoefen het, ook van God se genade bewus sal word en ook geroepe sal voel om opnuut verantwoordelikheid vir hulle seksuele gedrag te neem. (Statistiek sê daar sal waarskynlik sulke persone in die kerk wees.)

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans