Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 01/10/2010 – 15:53
Year C (2009-2010)
Bible Book: 2 Timothy / 2 Timoteus
Chapter: 1
Verse: 1 – 14
Paulus het die brief geskryf terwyl hy in die tronk was (vgl v 8 & 16). Baie Christene in die provinsie Asië het hom in die steek gelaat (v 15). Hy het voorsien dat ’n tyd sou aanbreek wat vir getroue Christene baie swaar sou wees (vgl 3:1). Volgens 4:6 het Paulus selfs verwag dat hierdie gevangenskap op sy eie doodsvonnis sou uitloop.
Alhoewel hy teleurgesteld was oor die wyse waarop Christene op sy gevangeneming reageer het, het Paulus nie aan pessimisme toegegee nie. Hy skryf hierdie brief om Timoteus te bemoedig om in getroue diens aan God te volhard.
Hoe was dit moontlik vir Paulus om sy “kind in die geloof” (vgl 1 Tim 1:2) onder sulke moeilike omstandighede te bemoedig en om hoopvol te bly?
Hoewel hy in die tronk was en hoewel hy deur baie Christene in die steek gelaat is, het Paulus steeds bewustelik van dag tot dag in die teenwoordigheid van God geleef.
God het sy betroubaarheid aan vorige geslagte bewys. “Ek dank God, wat ek net soos my voorouers met ’n skoon gewete dien”(v 3). Die geloof van Timoteus se ouma en moeder bevestig dit ook (v 5). God het reeds voor alles (van ewigheid af) beplan om sy genade deur Christus Jesus bekend te maak en om Paulus en Timoteus te red (v 9-10). Dit sluit God se gawe van die ewige lewe in. “Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring” (v 10).
Paulus het uit ondervinding geweet dat God van dag tot dag voorsien. “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing” (v 7). Selfs toe almal hulle vir Paulus se gevangeneming geskaam het, het Onesiforus hom in sy sel besoek (v 16-17). Daarom kon Paulus vir Timoteus van God se genade, barmhartigheid en vrede verseker (v 2).
Paulus het ook geweet dat God betroubaar sou bly in die tye wat kom, ongeag wat mense aan hom sou doen. “Ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou” (v 12b).
God is getrou. God is gister, vandag en vir altyd dieselfde. Daarom is daar hoop in moeilike tye en selfs wanneer dit lyk of die einde naby is.
Om oor na te dink (of te bespreek): Het jy hoop? Wat is jou redes?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans