Jesaja 40:12-31
In verse 12 tot 20 verkondig Jesaja dat Israel se God die Skepper God is wat nie met enige menslike konstruksie of beeld vergelyk kan word nie (vgl verse 18 & 25). Hierdie Skepper God is ook die soewereine God wat oor die hele skepping sowel as die geskiedenis van die mensdom regeer (vgl verse 22-24).
Hoewel God té groot is om met enige beeld, of afgod deur enige vakman gemaak, vergelyk te word (vgl verse 19-20), beteken dit nie dat Hy té groot, of té ver is om oor ons pyn en swaarkry besorg te wees nie. Israel se klagte in vers 27 dat God nie vir hulle omgee nie, word deur die profeet op sy kop gedraai: Hulle mag dink dat God te groot is om om te gee, maar Jesaja weet dat God te groot is om hulle te faal.
God regeer nie “from a distance” nie – Hy is die altyd teenwoordige Helper wat krag gee aan die swakke en hulle wat nie krag het nie, versterk (verse 30-31).
Die welbekende verse 28 tot 31, wat dikwels aangehaal word, verseker ons dat die soewereine Skepper God, wat nie moeg word nie, sy krag aan hulle wat op Hom wag, gee. God se belofte aan hulle wat wag, hulle wat hoop, hulle wat met vertroue vorentoe kyk, is dat Hy sy sterkte aan hulle sal skenk. Dit open die weg om natuurlike swakhede (bv uitputting en bejaardheid) te oorkom en selfs om dit wat onmoontlik lyk (“vlieg met arendsvlerke”), te doen.
Daar is wonderlike troos en bemoediging vir hulle wat hierdie beloftes toe-eien:
Om oor na te dink (of te bespreek): Watter troos is daar in hierdie verse vir ons wat in ‘n wêreld met MIV en vigs leef?