Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 29/01/2010 – 13:17
Year C (2009-2010)
Bible Book: Luke / Lukas
Chapter: 4
Verse: 21 – 30

Dis byna ongelooflik hoe die mense van Naseret se houding teenoor Jesus in ‘n kort tydjie kon verander.

Eers het almal “hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond” (v 22a). Sommige vertalings interpreteer die oorspronklike as ’n beskrywing van positiewe entoesiasme oor Jesus. Neem byvoorbeeld die New International Reader’s Version: “Everyone said good things about him. They were amazed at the gracious words they heard from his lips.”

‘n Paar verse later lees ons egter dat hulle so kwaad geword het vir Jesus dat hulle “Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi” (v 29).

Wat het tussen verse 22 en 29 gebeur dat so ‘n dramatiese ommekeer plaasgevind het?

Kon dit wees dat hulle skielik besef het dat hierdie Jesus mos die seun van Josef is (vgl v 22b) – die een oor wie daar stories van ’n buite-egtelike geboorte vertel is? Kon hulle Hom hieroor verag het? Of was dit die stories oor die wonders wat Hy in Kapernaum gedoen het (vgl v 23) – ’n dorp met ’n gemengde bevolking van Jode en nie-Jode – wat hulle gehoor het?

Daar bestaan geen twyfel nie dat die twee voorbeelde wat Jesus toe uit die Skrifte aangehaal het, hulle geweldig ontstel het. Hulle sou geweet het van Elia se besoek aan die weduwee van Sidon (buite Israel se grense) en van Elisa be genesing van Naäman, die Siriër (’n volk wat teen Israel oorlog gevoer het). Deur hierdie twee voorbeelde saam te voeg, het Jesus God se goedhartigheid teenoor mense buite Israel beklemtoon. En deur dit te doen, het Hy op ’n rou senuwee gedruk. Hy het hulle veronderstelling dat God Israel se God en net hulle God alleen is, openlik gekonfronteer.

Die verhaal konfronteer ook ons veronderstellings oor God. Kan ons ons God met ander “deel”, of glo ons dat God “net ons God alleen” is?

Om oor na te dink (of te bespreek): Wat dink jy van die volgende aanhaling uit ‘n preek oor Lukas 4:21-30? – “Do we really want a gracious God? Certainly we do — for ourselves; but can we have a gracious God if we don’t believe that the same grace is given to those sinners outside our church doors, outside our faith, outside our boundaries of acceptability?” Wat dink jy daarvan om die aanhaling spesifiek binne die konteks van die MIV en vigs pandemie te lees?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans