NULL
Bible Book: John / Johannes
Chapter: 3
Verse: 1
Verse (to): 17

Teks: Johannes 3:1-17

Vir my lê die hoogtepunt van hierdie bekende Skrifgedeelte in God se liefdesverklaring van vers 16.
In Efesiërs 3:18 bid Paulus dat gelowiges gesamentlik iets mag begryp van “hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.” In Johannes 3:16 verduidelik Jesus aan Nikodemus hoe wyd en ver en hoog en diep God se liefde strek. Dit is ‘n liefde wat so “wyd” is dat die ganse wêreld ingesluit word, so “ver” en “diep” dat dit tot aan die godverlate kruisdood strek, so “hoog” dat niks minder nie as die ewige lewe deur hierdie liefde aangebied word.
Wanneer Jesus hierdie liefdesdaad van God verder toelig, doen Hy dit met verwysing na die verhaal van die Israeliete wat in die woestyn deur slange oorval is. Die verhaal van Num 21:4-9 vertel van God se genadige ontferming oor Israel.  Hierdie ongeduldige mense, vir wie die woestyntog een te veel geraak het, het teen Moses (en dus per implikasie teen God) uitgevaar dat Moses (en God) dit nie met hulle goed bedoel nie. Toe God slange stuur (Num 21:6) en die Israeliete om genade smeek, gee God vir hulle ‘n teken van sy genade. Daar in die woestyn waar talle sterwend was, plant Moses ‘n paal met ‘n koperslang daarop. Hierdie paal daar tussen die sterwendes in die woestyn sê: God bedoel dit goed met sy mense.
Te midde van die vigspandemie, kom Jesus se woorde aan Nikodemus soos ‘n paal op ‘n woestynduin voor ons staan: Jesus se kruisdood beteken dat God dit met ons goed bedoel. Wie na die kruis kyk, ontdek iets van hoe wyd en ver en hoog en diep God se liefde vir ‘n sterwende, stukkende wêreld is.
In Johannes 2:1-11 lees ons dat Jesus die bruilofsvreugde herstel het deur water in wyn te verander. Hoekom het Jesus so ‘n “aardse wonderwerk” gedoen? Johannes 3:1-17 sê: Omdat God se liefde so groot is. Daar mag in hierdie gebroke wêreld maar bruilofsfeeste wees, want God gee dan die ewige lewe!
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans