Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 12:16
NULL
Bible Book: Ephesians / Efesiers
Chapter: 1
Verse: 3 – 14
Efesiërs 1:3-14

Ons leef in ‘n wêreld waar persoonlike selfstandigheid en “vryheid van keuse” dikwels as waardes om na te streef, gesien word. Die gevolg hiervan is ‘n houding van: “ek wil in beheer wees”. Dit klink wel goed om te kan sê, “nou is ek in beheer van my situasie”, maar die teenkant hiervan is dat ons voortdurend gekonfronteer word om “vir jouself te sorg” en herinner word dat “net die sterkste (rykste) sal oorleef”!

Ook in baie kerke vind ons ‘n sterk beklemtoning van die individu. Jy word uitgedaag om persoonlike keuses te maak, om jou Christelike (kerklike) verpligtinge na te kom, om sterk te wees in jou geloof en jou verantwoordelikheid vir volharding in ‘n Christelike lewensstyl op te neem.

Die gevolg hiervan kan swaar belaste individue (Christene) wees – wat sukkel om al hulle probleme op hulle eie skouers te dra.

Aan hierdie oorbelaste Christene kom die eerste hoofstuk van Efesiërs soos ‘n wonderlike, verfrissende stroom water. Wat ‘n verligting om te hoor: God het gedoen wat nodig was om te doen! En: jy is die begunstigde van sy dade.

Lees deur verse 3 tot 8 en let op wie dit is wat hier handel en ter wille van wie gehandel word, wie dit is wat gee en wie ontvang: God “het ons in Christus geseën” (v 3), Hy het “ons in Christus uitverkies” (v 4). “In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees” (v 5). Hy het “sy wonderlike genade … vrylik aan ons geskenk”(v 6). “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe” (v 7). Hy het alles “so oorvloedig aan ons geskenk” (v 8).

Om te lees dat God reeds in Jesus Christus alles vir ons verlossing gedoen het en dat hy sy werk in ons deur die Heilige Gees sal voltooi (v 13-14), is inderdaad goeie nuus.

Daarom is dit nie verbasend dat Paulus so opgewonde is nie – lof en dank onderbreek telkens sy gedagtegang.

Dit het my laat dink aan wat Martin Luther by geleentheid gesê het: “The law says, ‘Do this,’ and it is never done. Grace says, ‘Believe this,” and everything is already done.”

Om oor na te dink (of te bespreek): Watter bemoediging vind jy in Efes 1:1-14 vir mense wat moeg geraak het in hul stryd om met MIV te leef of hulle wat moeg geraak het in hulle stryd om op die terrein van MIV en vigs te dien?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans