Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 11:26
Bible Book: 2 Peter / 2 Petrus
Chapter: 2
Verse: 10 – 21
2 Petrus 2:10-21

Wanneer ‘n mens die eerste hoofstuk van hierdie brief lees, kom die verskillende onderdele redelik verstaanbaar voor. Maar dis nie so maklik om Petrus se gedagtelyn in die eerste hoofstuk van die brief te volg nie. Wat is die verbande tussen die verskillende onderdele?

My indruk is dat ons die sentrale gedagte van Hoofstuk 1 in vers 10 vind: “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak” (1953 vertaling). Petrus skryf aan Christene wat baie gevare moet trotseer, veral die gevaar van terugval in “die verderf .. wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is” (vgl vers 4) en om vals leraars te volg (vgl hoofstuk 2) met die gevolg dat hulle nie gereed sal wees op die dag wat Christus verskyn nie (vgl hoofstuk 3).

Na hierdie oproep tot standvastigheid in 1:10 gaan Petrus in verse 12-18 voort om sy lesers aan die evangelie wat hy aan hulle verkondig het, te herinner. Dit is in hierdie konteks wat ons sy herinnering aan die verheerliking van Christus lees.

Waarom kies Petrus hierdie gebeurtenis uit al die ervaringe wat hy gehad het as volgeling van Jesus? Hoekom herinner hy nie sy lesers aan die kruisiging nie? Waarom nie Jesus se opsanding nie?

Ek dink ons kan iets van Petrus se gedagtegang in Hoofstuk 1 verstaan wanneer ons onthou dat die verheerliking op die berg nie ‘n geïsoleerde gebeurtenis was nie. Dit was die begin van Jesus se finale reis na Jerusalem wat sou eindig in sy lyding en dood. Dit is belangrik om te onthou dat dit op hierdie beslissende moment was wat God iets van Christus se heerlikheid openbaar het, sowel om sy vreugde in sy Seun te bevestig: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug” (vers 17).

Petrus skryf aan sy lesers wat elkeen in haar of sy eie manier op reis is in hierdie wêreld – ‘n reis wat versoekings, gevare, siekte, lyding en selfs ‘n kruis mag meebring. Aan sy mede pelgrims gee hy die bemoediging: God, wat Hom verheug het oor Jesus op weg na die kruis, is ook verheug oor sy dogters en seuns wanneer hulle sy Seun volg – elkeen in haar en sy eie pad van gehoorsaamheid in die wêreld waarin ons leef.

Om oor na te dink (of te bespreek): Vir wie kan jy hierdie week bemoedig met die boodskap dat God verheug is wanneer ons Jesus in ons daaglikse lewe volg?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans