Year A (2010-2011)
Bible Book: Psalms
Chapter: 99
Verse: 1
Verse (to): 9

Psalm 99 vertel dat God heilig is. Nou sal julle sê, maar dit weet ons nou al ‘n rukkie, hoor! Dis omtrent die eerste ding wat ons oor God geleer is: Hy is heilig. Daar is aan ons vertel wat dit beteken dat Hy heilig is. Dit beteken dat Hy anders is – en verhewe. Hy laat nie met Hom spot nie. Dis wat ons geleer is om te glo.

Maar Psalm 99 praat op ’n ander manier oor God se heiligheid. Kyk ons na Psalm 99, dan sien ons God se heiligheid beteken nie verweg-wees, of eenkant-wees nie. Inteendeel, ons leer drie gesigte van God se heiligheid in Psalm 99 ken, en al drie is sulke wonderlike nuus. Al drie bring ons en God nader aan mekaar. Dit plaas Hom in ons midde, in ons harte as die Een wat ons hand neem en ons in moeilike tye lei.

In die eerste plek beteken God se heiligheid in Psalm 99 dat Hy die reg liefhet, met ander woorde dat mense mekaar as gelykes behandel. God haat dit as mense mekaar bykom, jy weet, soos in sleg sê en verneder. God haat dit as iemand oor ’n ander een baasspeel en hom of haar verneder, net omdat hy kan. Dit is nie reg nie. Dit is onheilig.

En dit sluit natuurlik mense wat deur MIV en vigs geaffekteer is, in. Om teenoor hulle te diskrimineer, om hulle te verneder, sal ’n aantasting van die heiligheid van God self wees – God wat regverdig is en wat die reg liefhet.

In die tweede plek vertel die Psalm dat God wat heilig is, is die Een wat luister. God het ‘n geskiedenis dat Hy luister wanneer mense Hom aanroep. Toe Moses en Aäron tot Hom gebid het, het Hy geluister. En dieselfde met Samuel. God is die Een wat luister. Hy is betroubaar. Jy weet as jy met Hom praat, sal Hy luister. Só heilig is God, dat Hy absoluut betroubaar is.

En dis wonderlike nuus vir almal wat as gevolg van MIV en vigs onreg ervaar en aan wie vertel word dat daar nie vir hulle hoop is nie. Inteendeel, ons God is heilig en betroubaar. Hy luister. Hy tree op. Hy neem mense wat in nood verkeer se hande en lei hulle na hoop en verlossing.

God is nog op ‘n derde manier heilig. Hy vergewe ons. Ons verhouding met Hom is vir God belangrik. Alle mense word deur God waardig geag om lief te hê. Hy vergewe hulle alles wat vergewe moet word en Hy het alle mense lief.

Die heilige God is dus nie ver weg nie. Hy sonder Hom nie van ons af nie. God is nie die Een wat daar hoog bo sit en loer of ons iets onheiligs doen, sodat Hy uit meerderwaardigheid ‘n hou kan toedien nie.

Nee, die heilige God is naby ons. Die heilige God gee om vir ons. Dit is vir die heilige God belangrik dat mense met waardigheid en liefde hanteer word. Ons verhouding met Hom is ’n eerste prioriteit vir Hom.

Om oor na te dink (of te bespreek): Dink jy ons kan probeer om op dieselfde manier heilig te wees as wat God is? Ons kan nooit volmaak heilig wees soos God is nie, maar dink jy dis die moeite werd om te probeer heilig wees in die manier wat ons ander se menswaardigheid raaksien, deurdat ons self betroubaar is en deur ons verhoudings met ander ’n prioriteit te maak?

Geskryf deur Christina Landman (UNISA)

 

Author: (Unknown)
Language: Afrikaans