Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 11:40
Bible Book: 2 Thessalonians / 2 Tessalonisense
Chapter: 2
Verse: 1 – 17
2 Tessalonisense 2:1-5; 13-17

Daar is reeds eeue lank meningsverskil in die kerk tussen diegene wat glo dat die taak van die kerk die verkondiging van die Woord is, teenoor diegene wat glo dat dit belangriker is om in sosiale kwessies betrokke te raak. Meeste van ons is bewus van die spanning wat daar ‘n paar dekades gelede tussen die “evangelicals” en die “ecumenicals” was. Dan is daar ook diegene wat die “Social Gospel” gepropageer het en – in meer onlangse tye – die harde woorde wat tussen “evangelicals” en “post-moderne” Christene geval het. Baie van hierdie argumente berus op ‘n bepaalde verstaan van die Bybel. Sommige glo die hooftaak van die kerk moet wees om mense tot bekering te lei, terwyl ander glo jy kan nie die evangelie aan honger mense verkondig nie. Hierdie argumente gaan steeds voort.

In hierdie konteks is die woorde van 2 Tes 2:16 & 17 besonder verhelderend: “En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade ‘n blywende troos en goeie hoop gegee.”

Wanneer ‘n mens deur die Evangelies sowel as deur Handelinge en die res van die Nuwe Testament lees, val dit op dat daar skynbaar geen spanning tussen die verkondiging van die evangelie en die help van mense in nood is nie. Die apostels kon ewe maklik aan iemand sê: “in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!” (Hand 3:6), as wat hulle kon sê: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word” (Hand 16:31). En wanneer ‘n lam man na Jesus gebring word, vra Hy: “Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’?” Jesus doen beide.

Dit is waarom die woorde van 2 Tes 2:16 & 17 so treffend is. Weer eens lyk dit of daar geen spanning tussen woorde en dade is nie. Wat ook al benodig word, moet vrylik gegee word. Ten spyte van baie pogings om mense se opinie oor vigs te verander is daar steeds Christene wat glo dat dit nie die kerk se taak is om betrokke te raak by hulle wat swaarkry as gevolg van hierdie ernstige siekte nie. Maar, as dit nie die kerk se taak is nie – wie se taak is dit dan? Die geskiedenis toon dat die kerk nog altyd gereed was om, wanneer die wêreld ‘n krisis beleef, te reageer met liefde en sorg en om letterlik te “treur saam met dié wat treur” (Rom 12:15)

Terwyl ons nou een van die grootste pandemies van alle tye in die gesig staar, is dit nodig dat die kerk op die wyse moet reageer as wat Jesus sou reageer het.

Om oor na te dink (of te bespreek): Wie kan jy met die woorde van 2 Tes 2:16 & 17 bemoedig en seen?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans