Filippense 2:5-11 (4/4/04)
Palmsondag “herdenk” die intog van Jesus in Jerusalem (Lukas 19:28-44). Die verhaal vertel van die vreugde van die pelgrims wat saam met Jesus op pad was na Jerusalem. Hulle kon nie langer stilbly nie, want in Jesus het hulle ’n liefde ontdek wat totaal nuut en anders is as dit waaraan hulle by hulle leermeesters en leiers gewoond was.
In Filippense 2:6-11 sing Paulus ook ’n lied oor die besondere liefde wat ons in die koms, lewe en sterwe van Jesus ontdek. Hierdie liefde leer ons ken in die gesindheid van Jesus waarmee Hy homself verneder en nogmaals verneder het en gehoorsaam was tot die dood (verse 7-8). Of Paulus die lied geskryf het of ‘n reeds bekende lied aanhaal – dit is ‘n aangrypende lied oor Christus. Dit behoort ook vandag, soos in die vroeë kerk, ons lofsang en aanbidding te rig.
Wat opval, is dat Paulus nie in die eerste plek die gemeente oproep om die lied saam te sing nie (dit het hulle miskien reeds gedoen), maar om Jesus se gesindheid (waaroor hulle sing) met hulle lewens na te volg (vers 6).
Wanneer Jesus se volgelinge met sý gesindheid optree, sal daar wel blye “Hosanna’s” opklink:
– deur mense wat gedink het dat hulle verstoot is, en ontdek het dat mense na hulle uitreik;
– deur kinders wat haweloos gelaat is omdat hulle ouers in die fleur van hulle lewens gesterf het, maar ontdek het daar is mense wat vir hulle omgee;
– deur mense wat gedink het dat die doodsvonnis oor hulle uitgespreek is, maar ontdek het dat daar tog nog hoop is.
In kort: wanneer Jesus se dissipels sy gesindheid openbaar kom daar ’n liefde na vore wat nuut en anders is as wat die wêreld van mekaar en hulle leiers gewoond is.
Palmsondag vra van ons meer as om die pelgrims wat met vreugde vir Jesus gesing het, na te volg. Dit vra van ons om Jesus, wat op pad na Jerusalem is om daar sy lewe te offer, na te volg.