Submitted by Visitor (not verified) on Tue, 08/12/2009 – 13:48
Bible Book: John / Johannes
Chapter: 5
Verse: 30 – 47
Teks: Johannes 5:30-47
Wanneer ‘n mens hoofstukke 4 en 5 van die Johannes evangelie met mekaar vergelyk, val dit op dat daar ‘n groot kontras tussen die twee hoofstukke is. Johannes 4 handel oor mense wat tot geloof in Jesus gekom het: die vrou van Samaria (4:15,28-29), die Samaritane (4:42) en die regeringsamptenaar en sy hele huis (4:53). Hier teenoor vertel Johannes 5 van die “Jode” wat nie in Jesus wou glo nie.
Hierdie teenstelling het my laat wonder: Waarom het dit gebeur? Waarom kon Jesus se eie volksgenote dan nie insien dat Hy goddelike dade doen nie? Hoekom was daar by hulle vyandskap in plaas van geloof?
Wanneer ‘n mense met hierdie vrae in gedagte hoofstuk 5 lees, val dit op dat Jesus in verse 30-47 nie alleen verskeie uitsprake oor homself maak nie, maar ook verskeie uitsprake oor sy teenstanders maak. Om enkele voorbeelde te noem:
– Hoewel hulle die Skrifte ondersoek (:39) lewe God se woord nie in hulle nie (:38).
– Daar is by hulle ‘n onwilligheid om na Jesus te kom (:40).
– Hulle het nie die liefde van God in hulle harte nie (:42).
– In plaas daarvan om die eer te soek wat van God kom, is hulle gesteld op die eer wat hulle van mekaar ontvang (:44).
– Hoewel hulle die Skrifte ondersoek (:39) lewe God se woord nie in hulle nie (:38).
– Daar is by hulle ‘n onwilligheid om na Jesus te kom (:40).
– Hulle het nie die liefde van God in hulle harte nie (:42).
– In plaas daarvan om die eer te soek wat van God kom, is hulle gesteld op die eer wat hulle van mekaar ontvang (:44).
My indruk is dat hierdie aanklagtes met mekaar saamhang en dat die laaste twee die grondliggende probleem is. Die probleem by hierdie “vyande van Jesus” is dat hulle ‘n groep geword het waar elkeen afhanklik geword het van die res van die groep se erkenning en goedkeuring. As gevolg van hierdie “groepsdruk” was daar nie plek vir God se liefde in hulle harte nie. Daarom was hulle ondersoek van die Skrifte vrugteloos en bly hulle by voorbaat onwillig om Jesus met ‘n oop gemoed te nader.
As gevolg hiervan was die genesing van ‘n verlamde man wat 38 jaar bedlêend was vir hulle ‘n gruwel, want al wat hulle daaroor vir mekaar kon sê, was dat dit teen die Sabbatgebod (soos hulle dit verstaan het) was.
Hulle onvermoë om hierdie man se nood en daarom die wonder van sy genesing te begryp, was die simptoom van hulle skeefgetrekte verhoudings met mekaar en die afwesigheid van God se liefde in hulle harte.
Dit laat my wonder: Sou mense se apatiese en selfs negatiewe houdings teenoor die nood van mense wat met MIV leef, dalk meer vertel van ‘n skeefgetrekte verhouding met hulle “portiergroep” en die afwesigheid van God se liefde in hulle harte as wat ons normaalweg dink?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans