Submitted by Visitor (not verified) on Thu, 17/11/2011 – 10:56
Year A (2010-2011)
Bible Book: Job
Chapter: 38
Verse: 1 – 41
Teks: Job 38:1-41

Lyding dryf gelowige mense na dringende vrae soos: Hoekom ek? Waarom juis dit? Doen God dit? Waar is God?

Vrae wat soms vir gelowige vriende nie vroom klink nie.

Die vrae wat lydendes vra, dryf baie gelowige mense tot antwoorde. Antwoorde soos “Hier is God se antwoord op jou vrae en jou lyding ….”, word met groot ywer gegee.

Antwoorde wat vir lydendes dikwels nie na antwoorde klink nie.

So het dit in die Boek Job gebeur en so gebeur dit vandag nog.

Wanneer God in hierdie boek aan die woord kom, is dit vir ons wat na logiese antwoorde soek, ‘n vreemde woord. Dis asof God nie regtig al Job se vrae gehoor het nie. Maar God antwoord nie soos ‘n mens nie. Hy openbaar Homself.

Toe Moses vir God vra wat hy vir die slawe wat daar in Egipte ly, van Hom moet sê, was sy antwoord: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur” (Eksodus 3:14).

God se gesprek met Job in Hoofstuk 38 is asof die Here vir Job vra: Weet jy wie Ek is? Of positief gestel: Dit is wie Ek is, Job! Of in die taal van Eksodus: “Ek is wat Ek is”.

Die verbasende van hierdie boek is dat Job deur die (vir ons) vreemde antwoord van God berusting vind. Iemand het dit mooi beskryf: “soos ‘n klein seuntjie wat met sy vuiste teen die bors van sy groot Pa hamer, bedaar die tirade en Job word bewus van die groot arms van God wat hom ten spyte van alles vashou” (Riglyne vir Kategese, 2003, bl 125).

Wat is ons roeping te midde van lyding? – in ‘n tyd wat MIV en vigs soveel seer en swaar meebring?

Miskien kan ons vir lydendes help om iets van die “Ek is” van God te ontdek – deur gewoon “daar te wees” vir hulle.

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans