Submitted by Visitor (not verified) on Tue, 08/12/2009 – 14:58
Bible Book: Lamentations / Klaagliedere
Chapter: 1
Verse: 1 – 6
Klaagliedere 1:1-6, 3:19-26
Met die lees van die eerste 4 verse van Klaaglieder het die beeld van die MIV- en vigspandemie by my opgekom.
Die afgelope week het ek die voorreg gehad om ‘n konferensie by te woon. ‘n Aantal organisasies wat direk betrokke is in die stryd teen die vigspandemie – van verskeie lande in Suider-Afrika – was teenwoordig. Terwyl ek na hulle verhale oor die impak van MIV en vigs – veral in landelike streke – geluister het, het ‘n beeld by my onstaan wat in vele opsigte vergelyk kan word met die beeld wat Jeremia in Klaagliedere 1:1-4 teken.
Tog het ek nie alleen meer van die verwoestende gevolge van MIV en vigs geleer nie – ek was getref deur die ywer, moed en volharding waarmee hulle voortgaan om in moeilike omstandighede mense wat swaarkry, te help. Waar kom dit vandaan? Hoekom kan sommige die moed vind om ten spyte van groot uitdagings toegewyd te bly – terwyl so baie mense in ons gemeenskappe óf onverskillig oor die vigspandemie is óf oorweldig word daardeur?
Ek glo deel van die antwoord lê in die belydenisse van Jeremia in ons Skrifgedeeltes: Aan die aan kant treur hy hartstogtelik oor sy mense se swaarkry (1:1-6). Aan die ander kant kyk hy na God vir troos (3:19-26). Sonder die passievolle betrokkenheid in die lyding van sy mense sou sy belydenis oor hoop in die troue liefde van God na vrome woorde kon klink. Maar wanneer ons sy belydenis in 3:22-23 lees, weet ons: dit is die taal van ‘n hart vol pyn wat opkyk in die gesig van die lewende God. “Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.”
Om God te midde van die swaarkry van gemeenskappe te sien, is om hoop te vind. En waar daar hoop is, is daar moed om te volhard.
Om oor na te dink (of te bespreek): Wat kan jy doen om iemand wat mense in hulle swaarkry help, te bemoedig?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans